Die Vryheidsfront Plus het ‘n prokureursbrief aan die hoofsweep, raadslid Z.E. Mangcotywa, van die ANC gestuur waarin geëis is dat die hoofsweep die lasterlike bewering wat hy tydens ‘n verposing in die sitting van die Mangaung-metroraad gemaak het, moet terugtrek.
Die hoofsweep het die lede van opposisiepartye skelms en bedrieërs genoem. Hy het hierdie stelling gemaak terwyl die speaker nie in die raadsaal was nie. Dit beteken dat die raad nie in sitting was nie en die hoofsweep dus geen privilegie geniet het wat hom teen ‘n lastereis sou beskerm nie.
Tydens die vergadering van die Mangaung-metroraad op 30 Junie 2016 het die hoofsweep die gewraakte woorde teruggetrek. Dit is ‘n oorwinning vir wet en orde en die handhawing van die gedragskode van raadslede. Dit is jammer dat die VF Plus regstappe moes neem om die hoofsweep te dwing om op te tree soos wat sy amp van hom vereis.
Die optrede van die hoofsweep toon duidelik dat hy nie vertroud is met die reëls van die raad nie en dat hy ook nie die gedragskode van raadslede nakom nie ten spyte van die feit dat hy as hoofsweep die plig het om dissipline in die raad te handhaaf.
Die VF Plus hoop dat die nuwe hoofsweep van die Mangaung-metroraad na die verkiesing op 3 Augustus meer bekwaam sal wees en in staat sal wees om sy/haar werk beter te doen as die huidige hoofsweep.
Dr Elizabeth Snyman van Deventer
082 305 1540