fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus sal stry vir billike bedeling vir eiendomseienaars in Johannesburg

Die VF Plus sal alles in die stryd werp om vir eiendomseienaars in die Johannesburgse metro ‘n billike bedeling te beding wat betref eiendomsbelasting.

Die Johannesburg-metro het sy jongste eiendomswaardasierol pas bekend gemaak. Dit tree op 1 Julie 2023 in werking.

Die jongste waardasies van eiendom is egter buite verhouding met die werklike markwaarde van eiendom in Johannesburg.

Die totale eiendomswaarde-basis is hiermee verhoog van net oor die R1.4 miljard in 2018 toe die laaste waardasie gedoen is, tot R1.5 miljard in 2023.

Dit is ‘n 12%-verhoging in die waarde van alle eiendomme terwyl die jaarlikse groei in eiendomswaarde heelwat laer is.

Die effek hiervan is dat grondeienaars groot verhogings in eiendomsbelasting kan verwag in ‘n tyd waar die land se ekonomie onder geweldige druk is en werkloosheid van die hoogste in die wêreld is.

Dit is uiters onbillik dat grondeienaars wat moeite doen om hul eiendom te onderhou en selfs te verbeter, gestraf moet word met onbillike hoë eiendomsbelasting.

Hierdie komende verhogings is nie volhoubaar nie en baie grondeienaars gaan bloot agter raak weens die verswakte ekonomiese omgewing.

Grondeienaars het egter gelukkig nog tyd om beswaar aan te teken teen die waardasie van hul eiendom.

Noudat die metroraad die waardasierol uitgereik het, moet dit binne 21 dae in die provinsiale Gazette gepubliseer word waarna eienaars genooi sal word om beswaar aan te teken.

Die VF Plus sal die publiek hiervan bewus maak deur middel van ‘n mediaverklaring en sosiale media-plasings.

Die VF Plus gaan ook die saak in die metroraad aanspreek voordat die finale waardasierol gepubliseer word.

Die VF Plus het al voorheen sukses behaal om eiendomsbelasting-toegewings te skep.

In 2013 het die VF Plus dit bewerkstellig dat eienaars bo 70 wie se eiendomme onder R2 miljoen werd is, geen eiendomsbelasting betaal nie.

In 2018 het die VF Plus dieselfde toegewings bewerkstellig vir eienaars bo 70, maar die perk van die vrygestelde eiendomswaarde is tot R2,5 miljoen opgeskuif.

Die VF Plus sal ook met die 2023-eiendomswaardasierol opstaan vir die regte van eiendomseienaars om billik belas te word en nie tot bankrotskap gedryf te word nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.