fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus reël suksesvolle geïntegreerde anti-dwelmklopjag by Amandasig in Pretoria

Die VF Plus het ‘n geïntegreerde anti-dwelmklopjag by Amandasig in Akasia in Pretoria gereël wat in die vroeë oggendure vanoggend suksesvol uitgevoer is (20 Oktober 2022).

Die klopjag-operasie is geïnisieer deur mev. Rina Marx, VF Plus-raadslid en burgemeesterskomiteelid vir gesondheid en maatskaplike ontwikkeling in die Tshwane-metroraad.

Dit was in reaksie op klagtes van dwelmmisbruik aan haar vanaf sektore van die gemeenskapspolisiëringsforums in Akasia.

Marx het daarna met die VF Plus se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid in die metro, Grandi Theunissen, geskakel om die klopjag-operasie te reël.

Die doelwit van die klopjag was om dwelmhandel en -misbruik in die gebied rondom die Amandasig Hoërskool uit te wis.

Dit is uitgevoer by wyse van ‘n geïntegreerde operasie deur die Tshwane-metropolisie, die polisie, die departement van binnelandse sake en lede van die gemeenskapspolisiëringsforums.

Marx het self deelgeneem aan die klopjag en was vergesel van verskeie VF Plus-raadslede, naamlik Dehan Harmse, Roché Grebe, Pieter Meijer and Mark Surgeon.

Tydens die klopjag is daar op dwelms en alkohol beslag gelê. Verskeie ongedokumenteerde buitelanders is ook aangehou.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling is ook gekontak om hulp en bystand te bied aan minderjarige kinders van buitelanders.

Hierdie suksesvolle operasie is weereens ‘n bewys dat die VF Plus as die kernparty en stabiele koalisievennoot in die Tshwane-koalisieregering die leiding neem in die stryd teen dwelmhandel en misbruik.

Dit word gedoen om die Tshwane-metro ‘n leefbare en veilige plek vir sy inwoners te maak.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.