Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus-provinsiale leier in Limpopo keer onreëlmatige belegging deur Potgietersrus-stadsraad by VBS Mutual Bank wat geld aan Zuma geleen het vir Nkandla

Terwyl daar nog geen antwoorde van die Openbare Beskermer (OB) is op vrae van die VF Plus oor die bank wat R7,8 miljoen aan pres. Jacob Zuma geleen het om sy Nkandla-skuld te betaal nie, het die VF Plus se leier in Limpopo op die nippertjie gekeer dat die stadsraad van Potgietersrus R100 miljoen onreëlmatig by dié bank belê.

Adv. Anton Alberts, VF Plus-voorsitter en leier in Gauteng, sê dit is ‘n kommerwekkende aanduiding hoe die ANC selfs op plaaslike regeringsvlak by onreëlmatige kaderverryking betrokke is.

Volgens adv. Alberts het die VF Plus se leier in Limpopo, me. Marcelle Maritz, op 13 Desember inligting bekom wat daarop gedui het dat die stadsraad beplan het om die geld by VBS te belê.

Dit was nadat die beleggingstydperk van die geld, wat voorheen by Standard Bank belê was, verstryk het en die geld herbelê moes word. Die raad se eie regulasies bepaal dat geld net by een van vier erkende banke herbelê kan word.

“Me. Maritz het die saak dadelik met die waarnemende munisipale bestuurder bespreek, maar het geen hulp van hom gekry nie. Die burgemeester was ook nie beskikbaar nie.

“Sy het daarna die opposisiepartye byeengeroep in ‘n uitstaande voorbeeld oor hoe partye teen die ANC kan saamwerk en het aan die raad ‘n brief geskryf waarin gesê is dat die partye van die aangeleentheid bewus is, en nie sal huiwer om strafregtelike klagte in te dien sou die transaksie voortgaan nie.

“Dié plan is toe laat vaar, en die geld is by Standard Bank herbelê. Hierdie is ‘n uitstaande illustrasie van die waghondrol wat opposisiepartye teen die regerende party kan en moet speel.

“As dit nie vir me. Maritz se vinnige optrede was nie, sou hierdie belegging ook deel gewees het van die statistiek van bedrog en korrupsie waarby die ANC betrokke is,” sê adv. Alberts.

Hy sê die VF Plus sal opnuut druk op die OB plaas om antwoorde te verskaf op vrae wat die party reeds op 1 Augustus 2016 gevra het oor die bank se lening aan die president. VBS se grootste aandeelhouer is boonop die Openbare Beleggingskorporasie met 25,26%.

Die vrae was (kortliks):
Is die korrekte prosedure gevolg met die toestaan van die lening?
Het iemand borg gestaan vir die lening, en indien wel, wie is dit?
Ondersoek waarom die president by die bank geld geleen het en hom nie na een van die groot, erkende banke gewend het nie.
In die lig van die Openbare Beleggingskorporasie se aandeelhouding, moet enige onreëlmatige politieke konneksies tussen die president en die bank ondersoek word.

Volgens adv. Alberts het die OB op 14 September 2016 ontvangs erken en gesê die kantoor sal voor 24 September 2016 aandui of hulle dit sal ondersoek, en of ‘n ander instansie dit moet doen. Daar het egter nooit weer ‘n antwoord gekom nie, al het die VF Plus navrae daaroor gedoen.

 

Navrae: 083-419-5403 / 082-391-3117 / 078-617-8682 (Marcelle Maritz)

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.