Die VF Plus glo dat die wangedrag van leerlinge by skole in Gauteng die gevolg is van Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, se pogings om gedragskodes by skole te verwyder en sy voortdurende inmenging in die bestuur van skole. Die probleme wat die afgelope maand by skole uitgebreek het, is ‘n simptoom van die afwesigheid van dissipline en disrespek vir enige vorm van gesag.
Die VF Plus het reeds in Augustus 2016, vir Lesufi gewaarsku om nie van gedragskodes in skole ontslae te raak nie en dat dit tot algehele chaos en wanorde in skole sou lei. Die waarskuwing van die VF Plus is nou besig om waar te word.
Enkele voorbeelde van die probleme wat die afgelope maand die media gehaal het, is ‘n leerling wat ‘n skootdans uitgevoer het by die Sikhululekile Secondary School in Pretoria, leerlinge van die Genl. Smuts Hoërskool in Vereeniging wat verlede Vrydag betoog het teen wit onderwysers, geweier het om klasse by te woon, by bende-gevegte betrokke geraak het en ‘n leerling van Eldorado Park Secondary School wat ‘n vuurwapen op ‘n onderwyser gerig het.
Dit is totaal onaanvaarbaar dat leerlinge enigsins in besit is van vuurwapens en skole moet sulke leerlinge uitwys en summier laat aankla vir die besit van onwettige vuurwapens.
Lesufi sal moet begin besef dat sy hardkoppige optrede besig is om skole in Gauteng heeltemal te omskep in wettelose instellings wat gaan dien as opleidingsentrums vir misdadigers eerder as opvoedkundige instellings waar leerders orde en dissipline moet leer.
Die VF Plus se verteenwoordiger in Vereeniging en raadslid in die Sedibeng-distriksmunisipaliteit, Kobus Hoffman, vergader binnekort met onderwysers van die Genl. Smuts Hoërskool in Vereeniging om die probleme wat in hierdie skool plaasvind te bespreek en om die onderwysers teen wie daar betoog word, by te staan.
Kontakbesonderhede: 060 556 4347