Die VF Plus het ‘n griefskrif oor die algehele verval van die openbare parkies in uitbreiding agt en sestien in Emalahleni (Witbank) namens die inwoners aan die bevelvoerder van die plaaslike polisiekantoor, brig. Moses Bolton, asook Mpumalanga se LUR vir gemeenskapsveiligheid, mnr. Vusi Shongwe, oorhandig.
In die griefskrif maak inwoners beswaar teen die verval van die parkies, openbare onsedelikheid, alkoholverbruik, urinering, rommelstrooiing en geraasbesoedeling waarmee hulle veral oor naweke gekonfronteer word.
Tot dusver het die talle klagtes van inwoners aan die plaaslike polisie op dowe ore geval.
Die aktiwiteite wat in die parkies plaasvind is ‘n oortreding van die Emalahleni-plaaslike munisipaliteit (Kriel, Ogies, Phola, eMalahleni/Witbank) se bywette rakende openbare ruimtes.
Dit bepaal dat die gebruik van ‘n openbare ruimte nie nadelig mag inwerk op die gesondheid of welstand van enige persoon nie en ook niemand die reg mag ontneem om die gebruik van hul eie eiendom te geniet nie.
Tans word alkohol openlik gebruik in die parkies met gepaardgaande oorverdowende musiek wat die rus vir alle inwoners in die gebied verstoor.
Die parkies word vol rommel agtergelaat en inwoners is verplig om self op te ruim weens die munisipaliteit se onvermoë basiese dienste soos vullisverwydering te lewer.
Die VF Plus sal die situasie monitor en sal deurentyd oorsigbesoeke aan die parkies bring om toe te sien dat inwoners se klagtes behandel en hul regte beskerm word.
Inwoners het die geleentheid om op 1 November saam met die VF Plus op te staan, saam te staan en ‘n sterk boodskap te stuur dat die algehele verval van die Emalahleni-munisipaliteit nie langer geduld sal word nie.
Die onbevoegde ANC moet vervang word met ‘n bevoegde en verantwoordelike munisipale bestuur wat sal optree in die belang van alle inwoners.
Navrae: 084 652 9164 / 082 887 5403