Die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia, Welkom) is ‘n toonbeeld van swak infrastruktuurinstandhouding en inwoners ly weens die swak munisipale bestuur.
Hoewel die munisipaliteit in die vorige finansiële jaar sowat R150 miljoen aan waterlekkasies verloor het, het die munisipale owerheid in dieselfde jaar slegs 20% van sy beskikbare infrastuktuurfondse bestee.
Beskikbare fondse vir herstelwerk is dus eenvoudig nie gebruik nie.
Skoon water wat in strate afloop, is ‘n duidelike bewys dat herstelwerk aan waterinfrastruktuur nie gedoen word nie.
Rioolbestuur is ‘n krisis. Dit veroorsaak geweldige gesondheidsrisiko’s vir inwoners en besoedel natuurlike hulpbronne in die gebied.
Die VF Plus het ‘n aanlyn-griefskrif geloods teen hierdie swak dienslewering in die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit.
Inwoners kan die griefskrif by https://vfplus.nationbuilder.com/petisie_maakmatjhabengreg ondersteun en sodoende eis dat die munisipaliteit sy beskikbare fondse vir infrastruktuur-instandhouding ten volle gebruik.
Die griefskrif sal op ‘n latere datum aan die speaker en burgemeester van die Matjhabeng-raad oorhandig word.
Die VF Plus het ook reeds die Vrystaatse regering amptelik versoek om die swak dienslewering in die munisipaliteit aan te spreek deur in so ‘n mate in te gryp dat die munisipaliteit sy wetlike en statutêre verpligtinge nakom.
Vuisvoos belastingbetalers in Matjhabeng verdien ‘n munisipaliteit wat basiese dienste lewer en kritiese infrastruktuur in stand hou.
Die ANC kan nie voortgaan om Matjhabeng se inwoners se geld te vermors nie. Die VF Plus sal aanhou om die ANC tot verantwoording te roep vir sy wanbesteding van fondse.
Navrae: 082 886 9945