Wapens, ammunisie en plofstof wat veral gedurende die tagtigerjare deur die ANC se Umkhonto we Sizwe (MK) die land ingesmokkel is, speel ‘n groot rol in die vlaag ernstige misdaad wat die land beleef.
Die ANC het destyds ‘n operasie genaamd Vulindlela geloods wat daarop gemik was om sy binnelandse strukture te bewapen.
In getuienis voor die Waarheid en Versoeningskommissie (WVK) in 1989 het ‘n senior ANC-lid van Mpumalanga aangevoer dat hulle opdrag van die ANC-leierskorps ontvang het om deur middel van transito-en bankrowe geld vir die ANC te bekom.
Die WVK het ook bevind dat ingesmokkelde wapens en ammunisie in die politieke konflikte van die vroeg negentigerjare ‘n groot rol in die geweld gespeel het.
Die VF Plus het al telkemale versoek dat die polisie en weermag die rekordhouding oor die indiening en vernietiging van MK-wapens, ammunisie en plofstof moet verskaf.
Dit is vreemd dat beide die polisie en die weermag tot op hede nog geen sulke rekords kon verskaf nie.
Intussen eskaleer die gevalle van ernstige misdaad waar aanvalsgewere soos AK47’s algemeen gebruik word.
In 2 300 transito-rooftogte tussen 2008 en 2016 is R1 miljard rand gebuit en het talle mense hul lewe verloor.
Buitelandse sindikate kry die oorhand, onwettige mynbedrywighede, mensehandel en dwelmsmokkelary neem toe terwyl die polisie skynbaar geen oplossing het nie.
Die VF Plus het dit duidelik gestel dat daar dringend gefokus moet word op doeltreffende, intelligensie-gedrewe polisiëring om ernstige misdaad te bekamp.
Dit is hieruit duidelik dat die ANC-regering geen erns het om hierdie misdaadvlaag doeltreffend te bestry nie. Die minister van polisie, Bheki Cele se repliek op die VF Plus se stellings tydens die debat onderstreep hierdie punt.
In stede daarvan om reguit antwoorde te verskaf, het Cele bloot teruggeval op historiese politieke retoriek en die vraag probeer omseil.
Suid-Afrikaners verdien beter as die ANC.