Die VF Plus is ten sterkste gekant teen die mosie van die Al Jama-ah-party in die Johannesburgse metroraad om Sandtonrylaan na die Ramallah Palestinerylaan te verander. Ramallah is ‘n stad aan die Wesbank van Palestina, tien kilometer noord van Jerusalem.
Die EFF het gedurende die raadsvergadering vroeër vandeesweek ‘n wysiging aan die mosie voorgestel om hulde te bring aan Leila Khaled, bekende lid van die Popular Front of the Liberation of Palestine.
Leila Khaled is berug vir haar aandeel in die kaping van Vlug TWA 840 in 1969. Sy en haar spanlede van die EPLD-organisasie was onder die indruk dat die Israelse ambassadeur in Amerika 'n passasier op die vliegtuig was. Sy en haar makkers het na die landing ontsnap en sy het begin om haar voorkoms deur plastiese chirurgie te verander.
In 1970 het sy weer toegeslaan en Vlug ELAL 219 gekaap terwyl sy twee handgranate aan haar gedra het. Sy is gedurende die kaping op Heathrow-lughawe in hegtenis geneem en is in Oktober 1970 na haar geboorteland teruggestuur in ‘n gyselaar-uitruilooreenkoms.
Die naamsveranderingsmosie is deur die ANC, EFF en Al Jama-ah gesteun.
Die VF Plus en ander partye het met sterk teenkanting debat in die raadsaal gevoer. Regulasies deur die Johannesburgse metro is voorgehou dat net ‘n straatnaam wat aanstoot gee verander mag word. Die vraag is, ‘hoe gee Sandton aanstoot’?
Leila Khaledrylaan sal aanstootlik wees vir die Joodse gemeenskap van Suid-Afrika en die naamsverandering sal neerkom op ‘n vrugtelose uitgawe.
Fondse kan eerder aangewend word vir die opgradering van infrastruktuur of die uitwis van die agterstand van die R167 miljard waarmee die ANC-regering die veelparty-koalisie gelaat het.
Kontaknommer: 082 358 3882