Die VF Plus het tydens ‘n raadsvergadering van die JB Marks-plaaslike munisipaliteit, wat Potchefstroom en Ventersdorp bedien, daarop gewys dat die laat ter tafellegging van die jaarlikse begroting strydig is met wetgewing en ernstig inbreuk maak op inwoners se reg om tydig en meningsvolle insette te lewer in die prioritisering van items in die jaarlikse begroting.
Die VF Plus het daarop aangedring dat die munisipaliteit voldoende maatreëls instel om maksimum openbare deelname te verseker. Die gemeenskap se insette is van kritieke belang om te verseker dat die ineenstorting van infrastruktuur en algemene verval in JB Marks gestuit word.
Die ANC-burgemeester, Kgotso Khumalo, het erken dat die begroting laat ter tafel gelê is. Hy het ook toegegee dat die verval van paaie en infrastruktuur in die gebied reeds ‘n kritieke vlak bereik het en dringend behandel moet word.
Hy het voortgegaan en erken dat die VF Plus se eise met betrekking tot die openbare deelname van die gemeenskap geldig is. Hy het hierop onderneem dat die munisipaliteit spesiale maatreëls sal instel om openbare deelname te verseker.
Hierdie maatreëls sal onder meer inligtings-en gespreksprogramme op plaaslike radiostasies, openbare vergaderings, elektroniese platforms, en die geleentheid vir skriftelike insette insluit. Dit alles binne die raamwerk van die voorgeskrewe Covid-19-regulasies.
Die VF Plus doen ‘n beroep op die JB Marks-gemeenskap om hierdie geleentheid aan te gryp en as een op te staan om saam sterk standpunt in te neem teen ‘n ANC-beheerde munisipaliteit wat jare reeds sy eie belange bo dié van die gemeenskap stel.
Kiesers moet hul stem verenig in die komende verkiesing en ANC-beheer in munisipaliteite tot ‘n einde bring.
Navrae: 082 415 8628