Die VF Plus kan nie meer langer toekyk hoe boere en hul kinders in Gauteng en elders in die land aangerand en vermoor word nie.
Die VF Plus in Gauteng gaan binnekort met die premier van Gauteng, David Makhura, en senior polisielede van die provinsie in gesprek tree oor die implementering van ‘n omvattende landelike veiligheidsplan.
Mnr. Kobus Hoffman, een van die VF Plus se nuwe provinsiale wetgewerslede, gaan op die provinsie se gemeenskapsveilig-komitee dien waar hy die plan sal bekendstel.
Hy gaan ook in gesprek tree met lede van georganiseerde landbou en burgerlike organisasies om ook hul insette en kundigheid te ontgun.
In die jongste plaasaanval is ‘n boer van Fochville en sy dogter vandeesweek op hul plaas aangeval. Die 55-jarige man was gereed om sy 17-jarige dogter skool toe te neem toe rowers hulle buite die huis oorval het.
Beide is teruggedwing in die huis waarna die boer oor die kop geslaan en sy dogter verkrag is.
Die rowers het glo in die boer se silwergrys Ford Ranger gevlug.
Die VF Plus se raadslid in die Merafong-plaaslike munisipaliteit, mnr. Ben van der Berg, het reeds die plaas besoek, maar met sy aankoms was alles verlate.
Hy sal op ‘n latere stadium ‘n boodskap van die party aan die slagoffers oordra.
Die party sal aanhou veg vir die veiligheid van elke Suid-Afrikaner en help om ‘n land te skep waar elkeen sonder vrees kan woon en werk.
Kontaknommer: 082 671 2302