Die VF Plus het ‘n klag van diefstal by die Vanderbijlpark-polisiekantoor teen die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) ingedien nadat die party se kantoor die afgelope naweek betree is en al die meubels en persoonlike items sonder toestemming verwyder is.
Die party het die hoofsweep van Emfuleni, Christina Sale, versoek om sonder versuim die party in te lig waar die betrokke meubels gestoor word en waarom daar nie vooraf kennis gegee is dat die kantoor sonder toestemming ontruim gaan word nie.
Personeel van die VF Plus het Maandagoggend by die plaaslike ekonomiese ontwikkelingsdepartement (die ou Trustbankgebou) in Vanderbijlpark, vir werk opgedaag en ander meubels in hul kantoor aangetref. Die deurslot was gebreek en ‘n binnedeur is aangebring om twee kantore te verbind.
Dit is onregmatig om sonder kennisgewing of magtiging ‘n kantoor te ontruim en private meubels asook vertroulike dokumente te verwyder. Tot op hede kon nie Sale of enige ander senior personeellid bevestig waarheen die meubels verskuif is nie.
Die VF Plus beskou hierdie oortreding as ‘n ernstige skending van privaatheid en het ook die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) , Lebogang Maile, versoek om in te gryp.
Die party het die polisie versoek om die meubels en dokumente op te spoor en die skuldiges te vervolg.
Navrae: 076 616 2124