Die VF Plus in Gauteng het vandag gedeeltes van die premier, David Makhura, se provinsiale rede verwelkom, maar was ook teleurgesteld dat sekere kritieke sake nie aangespreek is nie.
Die premier het in sy toespraak probleme uitgewys wat kritiek belangrik vir die provinsie is. Die VF Plus hoop die premier wys nie net die probleme uit om politieke punte aan te teken voor die volgende verkiesing nie, maar dat hy daadwerklik die probleme wil oplos.
Die VF Plus is ook bekommerd oor die feit dat die premier weereens verantwoordelikheid aanvaar het vir die Life Esidimeni-tragedie, maar dat hy nie genoeg verantwoordelikheid aanvaar deur te bedank nie. Die premier het ook nie aangedui of kriminele klagte deur die Gautengse regering teen Qedani Mahlangu, Barney Selebano en Makgabo Manamela ingedien gaan word nie.
Die kwessie van die dreigende krisis in die Emfuleni-munisipaliteit wat betref krag- en watervoorsiening en die R770 miljoen wat in die 16/17-boekjaar verdwyn het, het nie aandag geniet nie en hieroor moes die premier hom sterk uitgespreek het.
Die VF Plus betreur dit dat die LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, nie voor stok gekry is vir sy aanvalle op Afrikaanse skole en vir die aanhitsing van geweld by skole in Gauteng nie. Deur dit te verswyg keur die premier sulke optrede goed.
Die premier kon ook nie aandui wat sy regering met die behuisingskrisis gaan doen nie en het net aangekondig dat die behuisingsagterstand op 540 000 wonings staan. Die VF Plus het gehoop dat daar ten minste 'n aanduiding sou wees hoe hierdie probleem opgelos gaan word en dat werkbare planne op die tafel geplaas sou word.
Die VF Plus verwelkom wel die premier se bekommernis oor die vermorsing van water in die provinsie deur munisipaliteite en dat infrastruktuur en -instandhouding opgeskerp moet word.
Die premier se aankondiging dat e-tol nie in Gauteng werkbaar is nie, is 'n bewys dat die VF Plus reg was oor hierdie onwettige stelsel. Die VF Plus sal graag wil sien dat dreigende SMS'e deur SANRAL aan motoriste wat nie hul rekeninge betaal nie, dadelik gestaak moet word en dat rekeninge ook nie verder uitgestuur word nie.
Die party verwelkom glad nie die premier se aankondiging dat sy regering die ANC se beleid van grondonteiening sonder vergoeding ondersteun nie. Die VF Plus is totaal en al teen hierdie beleid gekant en sal dit in Gauteng op alle fronte beveg.
Wat die bekamping van misdaad in die provinsie betref, voel die VF Plus positief dat Makhura wel iets aan die probleem wil doen.
Die VF Plus het op 16 November 2017 met die premier oor hierdie probleem vergader na aanleiding van die 30 Oktober 2017 ‘Swart Maandag-veldtog’ en positiewe gesprekke het daaruit voortgevloei.
Die VF Plus en die Gautengse regering werk nou aan 'n teenmisdaad-plan om plaasmoorde en moorde in gemeenskappe hok te slaan. Die party is verheug oor die premier se erkenning vandag dat plaasmoorde 'n groot probleem in Gauteng is.
Kontakbesonderhede: 084 0154 722