Die VF Plus het vandag op provinsiale vlak by die waterkrisis ingegryp waar die mense van Blyvooruitzicht aan die Wesrand, reeds vir drie weke sonder water is.
Tydens die komiteesitting van die Samewerkende regering en Tradisionele sake in die Gauteng Wetgewer, wou die VF Plus weet wat die betrokke departement doen om die situasie op te los en dit ook duidelik gestel dat mense ‘n grondwetlike reg het om toegang tot water te hê.
Die departement het in reaksie hierop gesê dat die LUR reeds ‘n vergadering met die likwidateurs van Blyvooruitzicht-myn en Merafong City belê het en dat die probleem dringende aandag sal geniet.
Die VF Plus se LPW in Gauteng, Philip van Staden, het die komitee daarop gewys dat die departement en LUR lankal moes ingegryp het en nie nou eers nadat die media hieroor berig het nie.
"Dit is hartverskeurend om te sien dat mense sommer so sonder water gelaat word. Merafong City moes eerder na die mense omgesien het as om net hul water af te sny deur die probleem van uitstaande skuld op te neem met die likwidateurs van Blyvooruitzicht myn."
Die VF Plus voel dat die probleem slegs opgelos gaan word as Merafong City reëlings vir betaling tref met die myn se likwidateurs en vir al die huishoudings dadelik hul eie afsonderlike meters installeer.
"As daar nie voldoende water is nie, hou dit onder andere ‘n erge gesondheidskrisis in want siektes kan uitbreek weens riool wat nie weggespoel kan word nie."
Die VF Plus sal aanhou om die saak aan te voer op provinsiale- en munisipale vlak totdat die krisis uitgesorteer is.
Philip van Staden LPW Gauteng
Tel: 084 015 4722
Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za