Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus-Gauteng trek streep in die sand oor Emfuleni

Die VF Plus gaan ‘n versoekskrif rig aan die nasionale minister vir samewerkende regering en tradisionele sake (COGTA), dr. Zweli Mkhize, asook aan die minister vir waterwese en sanitasie, mnr. Gugile Nkwinti, om onmiddellik in te gryp in die benaderde situasie waarin die Emfuleni-munisipaliteit in Gauteng verkeer.

‘n Humanitêre krisis dreig in die munisipale gebied van Emfuleni wat onder meer Vereeniging, Drie Riviere, Vanderbijlpark, Sebokeng en Sharpeville insluit.

Swak bestuur deur die ANC-beheerde stadsraad van Emfuleni het oor tyd daartoe gelei dat dienslewering in die munisipale gebied in duie gestort het. Die stadsraad is reeds met etlike honderde miljoene rand agterstallig aan noodsaaklike diensverskaffers soos Eskom en Randwater en inwoners en besighede moet toenemend sonder elektrisiteit of water oor die weg kom.

Rou riool vloei in groot volumes deur persele, beland in afvoerkanale, spruite en in die Vaalrivier vanweë rioolpompstasies wat nie deur die raad onderhou is nie en ‘n omgewingsramp is onafwendbaar.

Verskeie pleidooie en eise aan die burgemeester van Emfuleni het op dowe ore geval. ‘n Afvaardiging van die VF Plus het in Mei 2018 ‘n dringende gesprek gehad met die Gautengse LUR vir GOGTA, mnr. Uhuru Moiloa, waar hy erken het dat die infrastruktuur in Emfuleni in duie gestort het en die munisipaliteit toe ingevolge Artikel 139 van die Suid-Afrikaanse Grondwet deur die premier van Gauteng onder administrasie geplaas is.

Dit is egter duidelik dat hierdie ingryping deur die provinsie onvoldoende is en dat beide die burgemeester en LUR Uhuru Moiloa se bestuurspanne weinig vordering maak.

Philip van Staden, VF Plus-LPW, het gister in die Gautengse wetgewer ook sy kommer uitgespreek oor die feit dat Emfuleni se belange nie behoorlik gedien word nie nadat die uitvoerende burgemeester van die raad, mnr. Jaco Khawe, bedank het om sy taak as Gautengse sekretaris van die ANC op te neem.

Dieselfde plaaslike ANC-politici wat verantwoordelik was vir die totale ineenstorting van die raad, is nog aan die stuur van sake en Gauteng se LUR en premier het ook met hul oorsigrol gefaal deur toe te laat dat dienslewering agteruitgaan.

Die premier van Gauteng, die LUR vir GOGTA en die uitvoerende burgemeester van Emfuleni het hulself reeds skuldig gemaak aan die oortreding van Wet 82 van 1998 wat die verpligtinge en etiese gedrag van uitvoerende openbare ampsbekleërs reguleer.

Die besoedeling van die Vaalrivier as lewensaar is verder ‘n duidelike oortreding van Artikel 24 van die Suid-Afrikaanse Grondwet wat handel oor die beskerming van die omgewing.

Die VF Plus doen ‘n beroep op die inwoners van Emfuleni om hul grondwetlike reg op te eis deur hierdie versoekskrif te steun en ook betrokke te raak by burgerlike inisiatiewe wat daarop gerig is om hul lewensruimte te verbeter.

Kontaknommer: 082 466 3786 / 062 391 1804

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.