Dit is onaanvaarbaar dat Eskom self op enige wyse betrokke gaan wees by die ondersoek na sy probleme, en die VF Plus gaan die Openbare Beskermer (OB) vra om dringend in te gryp en die ondersoek self te doen, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor energie.
Eskom het vandag mediaberigte ontken dat sy voorsitter, mnr. Zola Tsotsi, homself ‘aan hoof geplaas het’ van ‘n subkomitee van Eskom se raad en dat hulle volmag gaan hê om ondersoekers aan te stel. News24 berig dat Tsotsi en die komitee net ‘n ‘oorsigrol’ gaan speel.
Adv. Alberts sê nieteenstaande die woordspeletjie is dit duidelik dat Eskom die totale ondersoek wil orkestreer terwyl dit in landsbelang is dat ‘n behoorlike, onafhanklike ondersoek gedoen word.
“Eskom moet hoegenaamd nie by die ondersoek betrokke wees of self die ondersoeker aanwys soos nou gebeur het nie. Die verydel die hele doel van die ondersoek.
“Die ondersoek moet totaal onafhanklik wees en die ondersoekspan moet direk aan die minister rapporteer. Andersins word die deur oopgelaat vir ongerymdhede.
“Die VF Plus gaan die OB vra om tussenbeide te tree en die ondersoek self te doen in terme van sy grondwetlike mandaat om korrupsie en wanpraktyke te ondersoek waar dit in die publiek se belang is,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403