fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus gaan nuwe Inligting rondom Pretoria onluste aan SAPD oorhandig

Die VF Plus gaan nuwe inligting rondom die oorsaak van die Pretoria onluste ook binnekort aan die SAPD oorhandig.

Die party is besig om ‘n klagte by die SAPD teen die leierskap van die ANC in Gauteng in te dien wat insluit die aanhitsing van geweld, beskadiging van infrastrukture, besighede en private eiendom deur ANC-lede.

Volgens inligting wat op die nuusnetwerk IOL vandag verskyn het, word die VF Plus se sterk vermoede bevestig dat leiers van die ANC in Pretoria verantwoordelik is vir die onluste nadat Kgosientso Ramokgopa nie weer aangewys is as die ANC se burgemeesterskandidaat in Pretoria nie.

Volgens die IOL-berig het daar reeds die afgelope Maandag ‘n vergadering van 12 ANC-afgevaardigdes wat insluit, ‘n senior ANC-amptenaar, takvoorsitters, bestaande wyksraadslede en kandidate plaasgevind by die Court Classique Hotel in Arcadia Pretoria waar bose planne gesmee is om Pretoria in chaos te dompel nadat Luthuli Huis aangekondig het dat Ramokgopa nie meer die kandidaat gaan wees nie. Volgens die nuwe inligting was die plan om die stad te omskep in ‘n slagveld indien Ramokgopa nie vir ‘n verdere termyn terug in die stoel is nie. Die groep in die vergadering het onderneem om alle regeringsgeboue en munisipale eiendom af te brand asook die ANC se streekkantore. Hulle plan was ook om alle politieke aktiwiteite omver te werp.

Die VF Plus se LPW in Gauteng, mnr Philip van Staden, het gesê dat die VF Plus nie sal rus voordat die mense in die ANC, wat verantwoordelik is vir hierdie onrus in die stad, behoorlik aan die pen ry, aangekla en gevonnis word nie. Volgens die VF Plus word nie net gewone burgers se lewens en eiendom bedreig nie maar ook staatsveiligheid is in die gedrang.

“Twaalf mense het besluit om die land se hoofstad in chaos te dompel ter wille van een man, Kgosientso Ramokgopa. Twaalf mense het miljoene mense se lewens in gevaar gestel en die land se naam in die buiteland geskaad. Hierdie groepie mense het gesorg dat oproer onstaan het en die VF Plus sal sorg dat die ANC die verantwoordelikheid vir hierdie week se dade sal aanvaar en toesien dat hierdie mense aangekla sal word en sal boet vir die dade waarvoor hulle verantwoordelik is.”

Die VF Plus was reeds in gesprek met die SAPD en die party se regspan is besig om ‘n volledige klagstaat voor te berei met bewyse om aan die gereg te oorhandig.

 

Tel: 084 015 4722

Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.