Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus gaan by polisie aandring op stappe na gebeure by Myne Maatjies-kleuterskool

Die VF Plus gaan die Gautengse polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuelemisdrywe (GKS) en die polisie in Randfontein nader oor die gebeure by die Myne Maatjies-kleuterskool aangesien daar nog geen inligting is rakende stappe wat teen die beweerde oortreders geneem is of gaan word nie.

Die VF Plus wil die polisie vra om te verduidelik waarom die eienares en haar personeel nie in hegtenis geneem is nie en daar bloot verklarings van hulle geneem is. Die betrokke persone is wel in kennis gestel die GKS gaan die saak ondersoek.

Die party hoop die GKS sal die saak dringend en behoorlik ondersoek en sy bevindings aan die hof voorlê sodat daar opgetree kan word.

Die kwessie van ongeregistreerde dagsorgsentrums en kleuterskole is niks nuuts in Gauteng nie. Onwettige dagsorgsentrums en kleuterskole spring soos paddastoele op en word in baie gevalle deur onbekwame en ongekwalifiseerde eienaars en personeel bedryf.

Die VF Plus gaan die probleem ook opneem met me. Thuliswa Nkabinde-Khawe, die Gautengse LUR vir maatskaplike ontwikkeling.

Kinders in dagsorgsentrums en kleuterskole is veronderstel om geborge, veilig en geliefd te voel. Hulle verdien nie om deur volwassenes geboelie en mishandel te word nie. Ouers vertrou hul kinders aan hierdie instellings toe om na hul welsyn om te sien en moet met ‘n geruste hart hul kinders daar kan agterlaat.

Die emosionele skade wat kinders in sulke gevalle opdoen, kan blywende letsels op hulle laat.

Die VF Plus en die gemeenskap van Randfontein gaan nie toekyk hoe kinders mishandel word nie en sal toesien dat geregtigheid geskiet.

Kontaknommers: 071 604 9498 / 066 010 1053

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.