VF Plus-raadslede en party-ondersteuners het die afgelope naweek ’n groot opruimingsaksie langs die spruit in Agtiende Laan in Rietfontein geloods.
Amptenare van die Tshwane-metro, die Koreaanse Asez Woa-studentegroep en studente van die Universiteit van Johannesburg en die Tshwane-universiteit vir tegnologie was ook deel van die skoonmaakaksie.
Die Asez Woa-studentegroep wat in 175 lande oor die wêreld betrokke is, gaan die VF Plus voortaan bystaan met soortgelyke aksies.
Dié aksie was net die begin van ‘n groot stryd om die gebiede rondom spruite in die Tshwane-metro op te ruim.
Die Tshwane-metro bestee jaarliks meer as R140 miljoen aan die verwydering van vullis wat onwettig gestort word.
Dit is belastinggeld wat eerder aangewend kon word vir noodsaaklike dienslewering of die opgradering van kritieke infrastruktuur.
Die VF Plus, wat deel is van die koalisieregering in die Tshwane-metroraad, moedig inwoners aan om deel te word van die metro se opruimingsveldtog.
Onwettige vullisstortings kan aangemeld word by 012-358 7095.
Inwoners en ondernemings wat onwettig vullis of bourommel stort, kan ‘n swaar boete van die metro verwag.