fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus en AfriForum vat hande om slaggate in Tarlton, Krugersdorp te herstel

Die VF Plus en AfriForum het twee weke gelede hande gevat en afgeskop met ‘n gesamentlike projek om slaggate te herstel in Tarlton aan die Wes-Rand. Dié ‘Tarlton-projek’ het begin met die herstel van slaggate in Du Toitstraat wat as verbindingsroete tot die N14/R24 dien.

Sowat 200 slaggate, oor ‘n afstand van net meer as ‘n kilometer, is reeds herstel. Die projek is nog nie afgehandel nie en die VF Plus sal voortgaan om op Saterdae met die hulp van vrywilligers, gevaarlike slaggate in die omgewing te herstel.

Die party het AfriForum as vennoot genader omdat die projek teen groot onkoste aangegaan is en nie sonder ondersteuning en kundigheid kan plaasvind nie. Daar is reeds sowat R30 000 aan die projek bestee en streng padregulasies word met die herstelproses gevolg.

Du Toitstraat het slegs 'n 10mm lagie teer wat oor die bestaande grondpad gegooi is omdat die pad hoofsaaklik deur ligte voertuie gebruik word. Swaarvoertuie gebruik egter nou die roete as kortpad om die N14/R24-kruising te vermy.

Tarlton is tradisioneel as landbougebied bekend, maar die situasie het die afgelope jare drasties verander met vragmotor-eienaars wat ondernemings op kleinhoewes kom vestig het. Die padinfrastruktuur in die gebied kan nie tred hou met swaar verkeer nie.

Die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) se industriële gebiede is besig om leeg te loop terwyl al hoe meer ondernemings op landbouhoewes rondom Krugersdorp gevestig word.

Die VF Plus het in Maart 2020 vergader met die Gautengse LUR vir paaie en vervoer, Jacob Mamabola, oor die swak toestand van paaie in Gauteng. Die party het Mamabola daarop gewys dat paaie, veral na die reën, meer slaggate vorm wat lei tot ongelukke en lewensverlies.

Die party was veral bekommerd oor motorfietsryers wat vervalle paaie in die provinsie gebruik. Indien 'n motorfiets ‘n slaggat tref, is die kans op oorlewing skraal.

Die VF Plus steun ook die aksie van vrywilligers in verskeie dorp in Gauteng om self slaggate in paaie te herstel. Hierdie projekte word op eie koste gedoen waar munisipaliteite nalaat om paaie te herstel en verpligte onderhoud te doen.

Kiesers het 'n geleentheid om in die komende plaaslike regeringsverkiesing 'n drastiese verandering in die falende ANC-regering te bewerkstellig deur op te staan en saam met die VF Plus ‘n sterk boodskap uit te stuur dat die verval nie langer geduld sal word nie.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.