Die VF Plus het vandag tydens ‘n sitting van die Noordwes-wetgewer geëis dat die omstandighede rondom die ontsnapping van vyf gevaarlike misdadigers uit polisie-aanhouding in Zeerust dringend ondersoek word.
Die vyf ontsnaptes het reeds vorige veroordelings en is aangehou op klagte van moord, roof en verkragting.
Dit is veral kommerwekkend dat die mans ontsnap het nadat boere-organisasies en gemeenskapslede die polisie herhaaldelik versoek het om doeltreffende maatreëls in te stel om dit te voorkom.
Dit is bekend dat die persone vantevore reeds uit aanhouding ontsnap het.
Dit is belangrik dat die provinsiale regering homself sterk uitspreek teen sulke voorvalle en die hoë voorkoms van geweldsmisdaad in die Noordwes.
Stilswye uit regeringskringe sal bloot die persepsie van stille kondonering van ontsnappings onder lede van die gemeenskap versterk.
Die komiteevoorsitter van die portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid, me. Kim Medupi, het aan die VF Plus ‘n onderneming gegee dat die voorval ondersoek sal word.
Me. Medupi het ook onderneem om in gesprek te tree sal word met die provinsiale polisiebestuur.
Sy het voorts onderneem om ‘n vergadering tussen die portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid en die polisie vir die publiek toeganklik te maak.
Die gemeenskap van Noordwes steier reeds lank onder hoë vlakke van misdaad en voorvalle soos hierdie ondermyn die vertroue van die gemeenskap in die owerhede.
Die VF Plus sal hierdie ondersoek monitor en druk toepas om seker te maak die ontsnapte misdadigers word aangekeer en dat enige moontlike ongerymdhede rondom die ontsnapping blootgelê word.