Die VF Plus dring aan op dringende ingryping en optrede teen diegene wat sedert gister die N12 by Bloemhof met vragmotors afsper en hierdie belangrike roete verlam.
Hierdie onwettige optrede kom neer op ekonomiese sabotasie.
Die VF Plus het met die eerste aanduidings van die onwettige versperring van die pad onmiddellik met Noordwes se provinsiale polisie-owerhede in verbinding getree en versoek dat daar pro-aktief opgetree word om ‘n grootskaalse verkeersopeenhoping te vermy.
Die polisie-bestuur het daarop met die omliggende dorpe gekommunikeer en vragmotors is op alternatiewe roetes herlei om die stakers te vermy.
‘n Groot aantal vragmotors was egter reeds in die situasie vasgevang en die roete word steeds versper. Berigte en bewerings van ernstige intimidasie van vragmotorbestuurders is ook ontvang.
Die openbare orde-polisiëringseenheid (Pops) is intussen op die toneel ontplooi en monitor die situasie.
Die ekonomiese skade wat aangerig word deur hierdie onwettige optrede is enorm.
Graan en vars produkte van boere kan nie die markte bereik nie en ander sektore in die handel word eweneens nadelig geraak. Letterlik miljoene rande se ekonomiese skade word aangerig.
Vragmotoreienaars wie se trokke in die chaos vasgevang is, het in gesprekke met die VF Plus gesê dat hulle moontlik gedwing sal word om die voorbeeld van die bekende maatskappy Massyn Vervoer te volg, wat ná dekades sy deure gesluit het weens onder meer sulke onwettige optrede.
Die ANC-regering en wetstoepassingsowerhede moet ophou om diegene wat telkens blatant onwettig optree en ekonomiese sabotasie pleeg, met handskoene te hanteer.
In hierdie geval word verskeie wette oortree en misdrywe gepleeg. Dit kan nie straffeloos gelaat word nie.
Sonder behoorlike, ferm en konsekwente wetstoepassing, sal Suid-Afrika vinnig op ‘n afwaartse spiraal na anargie beland. Suid-Afrika verdien beter as die ANC.