fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus eis dringende ingryping in Madibeng

Die VF Plus in Madibeng het in ‘n skrywe aan die administrateur van die munisipaliteit, adv. M. Motlogekwa, versoek dat daar dringend en daadwerklik by die munisipaliteit ingegryp word om dienslewering in Brits en Hartebeespoort te herstel.

Die agteruitgang en verval van hierdie eens vooruitstrewende dorpe het nou krisisafmetings aangeneem. Die water-infrastruktuur is uitgedien en vervalle weens ‘n gebrek aan instandhouding en tydige opgraderings. Duisende liter water word daagliks deur lekkende pype vermors in die tye wat water wel beskikbaar is.

Die stormwater- en rioolstelsels is eweneens in ‘n vervalle toestand met onverwerkte riool wat weke lank reeds op sommige plekke in die strate afvloei. Die gesondheidsgevare hiervan vir inwoners is voor die hand liggend.

Straatligte word nie vervang nie en tesame met die verwaarlosing van dorpsparke word ‘n teelaarde geskep vir ‘n toename in misdaad.

Strate en paaie word nie onderhou nie en sommige strate is reeds bykans onbegaanbaar. Kragonderbrekings word soms na dae eers herstel en sommige inwoners stel selfs uit desperaatheid private kontrakteurs aan om substasies te herstel.

Hierdie omstandighede het ‘n geweldige negatiewe impak op die inwoners, nywerhede en sake-ondernemings in die gebied.

Brits was eens ‘n kern-ekonomiese groeipunt wat ‘n groot bydrae tot werkskepping gelewer het. Onder die huidige omstandighede wat deur die ANC-bewind in Madibeng geskep is, het nuwe beleggings in die gebied opgedroog en het bestaande ondernemings begin kwyn.

Alhoewel die VF Plus reeds ‘n mosie van wantroue ingedien het teen die burgemeester, Josthina Mothibi, word dit eers op 24 November 2020 in die raad tot stemming gebring. Onmiddellike en daadwerklike ingryping is nou nodig om ‘n krisis af te weer.

Navrae: 064 664 2060

DEEL DIT:

jongste artikels

Mediaverklarings
Armand Cloete

Premier moet ingryp by Matjhabeng-waterkrisis

Die VF Plus eis dat die Vrystaatse premier, Mxolisi Dukwana, moet ingryp by die voortslepende waterkrisis in die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia,

LEES MEER
Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.