Die VF Plus het vandag tydens ‘n raadsvergadering van die JB Marks-plaaslike munisipaliteit (Potchefstroom, Ventersdorp) konkrete antwoorde geëis van Noordwes se LUR vir samewerkende regering, behuising en tradisionele sake (Coghsta), Lena Miga, oor die stand van die munisipaliteit se administrasie en dienslewering.
Miga se teenwoordigheid in die raadsitting vandag volg op die eenparige aanvaarding van ‘n VF Plus-voorstel waarin aangedring is dat sy die munisipale raad persoonlik moet kom toespreek.
Die VF Plus het tydens die vergadering die wettigheid van die verlenging van die Artikel 139-administrasie van die munisipaliteit tot 31 Oktober 2021 bevraagteken.
Daar kan tans geen daadwerklike verbetering in die munisipaliteit se dienslewering gesien word nie, ten spyte van die ingryping deur die provinsiale regering meer as ‘n jaar gelede. Dit is al telkens bewys dat Artikel 139-ingrypings nie resultate oplewer nie en dikwels bloot nuwe korrupsiestrome skep.
Die VF Plus het ook daarop gewys dat die poste van sekere amptenare tans in stryd met wetgewing deur tydelike aanstellings gevul word, nadat die verlenging van dié aanstellings skynbaar deur die LUR bekragtig is.
Senior amptenare van die munisipaliteit is tans geskors hangende dissiplinêre ondersoeke weens beweerde finansiële ongerymdhede. Die gesloer met die dissiplinêre prosesse, waarin die munisipale raad nie geken word nie en die gebrek aan daadwerklike optrede, is totaal onaanvaarbaar.
Die VF Plus het ook versoek dat die verslag van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) na ongerymdhede in die munisipaliteit aan die raad voorgelê word.
Die VF Plus dring daarop aan dat ‘n gedetailleerde verslag deur die administrateur aan die raad voorgelê word oor die implementering van die Artikel 139-ingrypings en die impak daarvan op dienslewering. ‘n Verslag moet ook aan die raad voorgelê word oor die stand van dissiplinêre stappe teen geskorste amptenare.
Die LUR het versoek dat die vrae skriftelik aan haar gestuur word en het onderneem om binne veertien dae terugvoer aan die raad te gee.
Die VF Plus sal voortgaan om die LUR en administrateur van die munisipaliteit verantwoordbaar te hou en sal druk toepas om ‘n keerpunt in die swak dienslewering teweeg te bring.
Die algemene verval en gebrekkige dienslewering in JB Marks is direk toe te skryf aan die jarelange onbevoegdheid en korrupsie onder ANC-beheer. Dit is onaanvaarbaar dat die inwoners van Potchefstroom en Ventersdorp moet ly onder die ANC se kultuur van selfverryking, korrupsie en swak dienslewering
Kiesers moet in die komende verkiesing saam met die VF Plus opstaan en sterk staan om hierdie verval te stuit. Dit is noodsaaklik dat kundige en professionele bestuur in die JB Marks-munisipaliteit herstel word.
Navrae: 082 415 8628