Die VF Plus in die Dihlabeng-plaaslike munisipaliteit het ʼn strafregtelike klag ingedien oor riool wat al vir etlike maande by die Vogelfonteinrioolaanleg by Bethlehem oorloop en direk in die Liebenbergsvleirivier vloei.
Die klagte is ingedien teen die munisipale bestuurder van Dihlabeng, mnr. Amos Goliath, as rekenpligtige amptenaar van die munisipaliteit asook die afdelingsbestuurder vir riool, mnr. Lawrence Ramolwelwe.
Die VF Plus het telkemale vantevore die probleem by die munisipaliteit aangemeld, maar die amptenary se wil om die probleem aan te spreek, ontbreek duidelik.
Rou riool vloei teen sowat 30 liter per minuut in die Liebenbergsvleirivier wat in die Jordaanrivier en uiteindelik in die Vaaldam vloei.
Hierdie waterliggame voorsien inwoners vanaf die Oos-Vrystaat tot Gauteng van water, waar miljoene mense en diere van die Vaaldam afhanklik is vir watervoorsiening.
Die VF Plus het ʼn besoek aan die Vogelfonteinpompstasie afgelê om die omvang van die probleem te bepaal.
Munisipale werkers het teenoor die party hul ontevredenheid en frustrasie uitgespreek oor ʼn wesenlike tekort aan diesel vir kragopwekkers wat tydens beurtkrag die pompstasie aan die gang moet hou.
Riool by die Vogelfonteinrioolaanleg loop vir die afgelope drie jaar glo gereeld oor weens verskeie redes.
Dit sluit in swak ontwerpwerk, beurtkrag en die munisipaliteit se onvermoë om die rioolwerke maksimaal te benut. Swak bestuur en beplanning blyk egter die grootste redes vir die wanfunksionele aanleg te wees.
Dit is die munisipale bestuurder se plig om te verseker dat daar behoorlik weggedoen word met riool en ander afval binne die raamwerk van die Nasionale Omgewingsbestuurswet.
Hierdie wet gee uitvoering aan artikel 24 van die Grondwet, die Handves van Regte, wat bepaal dat inwoners die reg het op ʼn omgewing wat nie skadelik is vir hul gesondheid of welstand nie.
Die rekenpligtige amptenaar en sy bestuur moet daarvoor verantwoordelik gehou word.
Die inwoners van Dihlabeng verdien beter as die ANC.