fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus daag Gautengse ANC-regering uit om nasionale ANC-regering hof toe te neem oor e-tolstelsel

Die VF Plus het tydens 'n debat in die Gautengse wetgewer oor die e-tolstelsel die ANC uitgedaag om formeel 'n dispuut met die nasionale ANC-regering te verklaar in terme van die Interregerings-verhoudingewet wat die pad sal voorberei vir regstappe oor die e-tolstelsel.

Die VF Plus het die ANC ook daarvan beskuldig dat hy die kiesers mislei rakende die afskaffing van die e-tolstelsel indien hy nie bereid is om die nodige stappe te neem nie.

Dit lyk eerder of die ANC meer daarin belangstel om die volgende verkiesing te wen deur blote lippediens oor die afskaffing van die e-tolstelsel, maar nie bereid is om die werklike harde geveg aan te knoop nie.

Aan die een kant vertel die provinsiale ANC-regering dat die e-tolstelsel afgeskaf moet word, maar aan die ander kant verset die nasionale ANC-regering homself hierteen. Veral die minister van finansies, Tito Mboweni, het in sy begrotingsrede weereens die gebruikers-betaalstelsel ondersteun.

Dit is duidelik dat daar 'n fundamentele verskil van mening bestaan tussen die provinsiale- en nasionale regering wat nie meer bygelê kan word deur informele onderhandelinge nie.

Die minister van vervoer, Fikila Mbalula, het telkens sperdatums gestel waarteen die nasionale regering 'n finale antwoord oor die e-tolstelsel sal verskaf, maar daar word nie eens by die sperdatums gehou nie.

Die VF Plus eis dus dat die Gautengse ANC-regering sy erns oor die afskaffing van die e-tolstelsel wys deur openlik te verklaar dat hy die formele proses sal volg in terme van die Interregerings-verhoudingewet en begin voorberei vir 'n moontlike hofsaak.

Enigiets minder as dit, sal wys die Gautengse ANC-regering is nie ernstig oor die afskaffing van die e-tolstelsel nie, maar kiesers probeer mislei in die aanloop tot die plaaslike verkiesing vanjaar en die algemene verkiesing in 2024.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.