Die VF Plus het onlangs produktiewe samesprekings met die Universiteit van Pretoria (UP) gehou in verband met die Tshwane-metro se gemeenskaps-georiënteerde dwelmmisbruikprogram (COSUP).
Die UP werk sedert Mei 2016 saam met die Tshwane-metro om van COSUP ʼn sukses te maak. Die UP is behulpsaam met die ontwikkeling en implementering van die program.
Daar bestaan tans 16 COSUP-sentrums in die metro wat onder meer aksies tot die vermindering van dwelmmisbruik, rehabilitasie, bewusmaking en opleiding, mediese dienste en post rehabilitasie-ondersteuning aanbied.
Die VF Plus het tydens die vergadering die UP oortuig om ook plaaslike gemeenskapslede, met geen tersiêre opleiding nie, te bemagtig om behulpsaam te wees in hul eie gemeenskappe met dwelmbewusmaking en -misbruik.
Hierdie idee is gegrond op die suksesvolle loodsing van ʼn soortgelyke program in Streek 1 van die Tshwane-metro, waar vrywilligers opgelei is in verskeie basiese kursusse om ʼn diens te lewer aan hul gemeenskappe.
Die UP gaan op grond hiervan nou werk aan ʼn unieke program om gemeenskapslede op te lei sodat hulle ook deel kan word van die stryd teen dwelmmisbruik in hul onderskeie gemeenskappe.
Die COSUP-program is reeds deel van heeltydse en nagraadse studente se onderskeie studierigtings.
Sommige van die studente kom egter van ander dele van die land en selfs van die buiteland en kan dus geen bydra lewer tot die gemeenskappe in die Tshwane-metro nie.
Daarom sal die opleiding en bemagtiging van Tshwane se gemeenskapslede van groot waarde wees om dwelmmisbruik in die metro die hok te slaan.
Die samewerking met die UP het die metro tot dusver in staat gestel om met die COSUP-program ʼn bewese strategie te implementeer wat dwelmmisbruik bekamp en persone wat daarin vasgevang is, van hulp te wees.
Die VF Plus moedig persone aan wat hulp nodig het om aan te meld by een van die metro se COSUP-sentrums.