Die VF Plus het vandag die voortslepende rioolbesoedeling in Ventersdorp onder die aandag gebring van die minister van staatsdiens en administrasie, Ayanda Dlodlo, en het daarop aangedring dat dringende stappe geneem word om die situasie reg te stel.
Onverwerkte riool loop weens swak instandhouding uit 'n verwerkingsaanleg in dié gebied en beland uiteindelik in die Rietspruit en die nabygeleë Elandskuildam.
Buiten vir die voor die handliggende gesondheidsgevare wat dit vir die plaaslike inwoners inhou, lei dit ook tot grootskaalse besoedeling van grondwater en die omgewing.
Die plaaslike landboubedryf asook toerisme in die gebied ly groot skade hieroor.
Dlodlo het onderneem om aandag te skenk aan die probleem en het onderneem om die departement van water en sanitasie te nader vir verdere ingryping.
Hierdie stap volg nadat die VF Plus vroeër die kwessie met die JB Marks-plaaslike munisipaliteit opgeneem het en ook 'n saak by die menseregtekommissie (MRK) aanhangig gemaak het.
Die party het tot dusver geen positiewe terugvoer ontvang nie.
Die VF Plus sal voortgaan om druk toe te pas op alle vlakke van regering om inwoners te beskerm teen die gevolge van wanbestuur onder onbevoegde ANC-owerhede. Die persone verantwoordelik vir hierdie situasie moet ten volle aanspreeklik gehou word.
Kiesers moet in die komende verkiesings saam met die VF Plus opstaan en met hul stemme seker maak dat die ANC uit regering verwyder word om die verval stop te sit.