Te midde van sporadiese munisipale stakings is inwoners van Middelburg in die Steve Tshwete-plaaslike munisipaliteit (Hendrina, Middelburg, Pullens Hope, Rietkuil) ook gereeld sonder water weens 'n gesloer met infrastruktuurontwikkeling en -uitbreiding.
Die waterpyp in wyk 11 Mineralia bars sedert 19 Mei gereeld plek-plek en inwoners word vir dae lank sonder water gelaat. Hierdie ou asbespyp is in 40 jaar nog nie vervang nie. Die afgelope maand het vier hoofpyplyne van die Columbus-reservoir gebars wat sewe wyke (Mineralia, Groenkol, uitbreiding 18 en 7, die industriële gebied, Eastdene en die sentrale sakekern) sonder water gelaat het.
Met die 2021/22-geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) is daar ‘n driejaarplan beloof om verouderde en vervalle waterinfrastruktuur te vervang, maar die projek het tot stilstand gekom weens die voortslepende geskil tussen die munisipaliteit en stakende munisipale werkers oor loonverhogings.
Daar is egter nie in die GOP melding gemaak van watter strate se pype vervang sal word nie.
Benewens die verouderde infrastruktuur word die dorp se watertoevoer ook deur betogers se konstante sabotasie van die waternetwerk beïnvloed.
Middelburg-inwoners verdien ‘n plaaslike regering wat infrastruktuur prioritiseer en die welstand van inwoners eerste plaas, waartoe die ANC nie in staat is nie.
Die VF Plus het reeds einde verlede jaar ‘n klag by die menseregtekommissie (MRK) ingedien om die munisipaliteit te ondersoek vir die skending van inwoners se basiese reg om toegang tot skoon water. Die klag word nou opgevolg.
Die regering moet daarop let dat gemeenskappe toenemend die verantwoordelikheid vir dienste en onderhoudswerk op hulself begin neem en dat munisipale inkomste dienooreenkomstig sal afneem.
Daar kan nie van inwoners verwag word om te betaal vir dienste wat hulle nie ontvang nie. Die inwoners van Steve Tshwete verdien beter as die ANC.