Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Versoening, die Gelofte van 1838 en die Afrikaner se plek in SA

“Meeste mense in Suid-Afrika soek vrede en ’n veilige toekoms vir hulle kinders. Hulle soek ook die reg om hulleself te wees, as byvoorbeeld Afrikaners, in ’n land met baie tale en kulture. Is dit te veel gevra?” het dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier in ’n toespraak naby Bothaville in die Vrystaat gesê.

“Geforseerde versoening en nasiebou het nog nêrens in die wêreld gewerk nie. Versoening volg makliker wanneer geen groep of individu bedreig, onderdruk of gemarginaliseer in die land voel nie,” volgens Mulder.

Dr. Mulder het ook sy kommer uitgespreek oor die wyse waarop die Afrikaner se geskiedenis tans oorwegend negatief en eensydig aangebied word. Hy het spesifiek na die veldtogte om Afrikanerstandbeelde soos die van Paul Kruger en Louis Botha te verwyder, verwys. “Suid-Afrika is ‘n ekonomiese reus in Afrika. Suid-Afrika het in 1994 die beste infrastruktuur in Afrika gehad. Afrikaners het oor eeue ‘n belangrike rol gespeel om dit moontlik te maak. Ek vra vir ’n gebalanseerde aanbieding van die Afrikaner se geskiedenis en van sy rol in Suid-Afrika. Natuurlik het ons foute in die verlede gemaak, maar ons het ook ’n baie groot bydrae tot die ekonomiese krag en sukses van hierdie land gemaak. ’n Bydrae wat erken moet word en waarop ons trots kan wees,” het hy gesê.

“So staan byvoorbeeld Versoeningsdag en die jaarlikse herdenking van die 1838 gelofte nie teenoor mekaar nie. Dit is ’n fout om Afrikaners te probeer forseer om tussen die twee te kies – want albei is moontlik,” het Mulder bygevoeg.

“Werklike versoening lê daarin om die regte balans tussen dit wat ons as individue in gemeen het, en daar waar ons kultureel van mekaar verskil, te vind. As versoening in Suid-Afrika beteken dat die verskillende volke en kultuurgroepe dit wat hulle eie is, moet vernietig en opoffer, dan is die versoeningsresep verkeerd. Dit is nie werklike versoening nie maar gedwonge assimilasie en kulturele uitwissing.”

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.