Susan Taljaard, Vryheidsfront Plus-raadslid in Matjhabeng-munisipaliteit, spreek hiermee haar misnoeë uit met die voorlopige besluit van die Matjhabeng se stadsraad om sekere straatname in Welkom te verander. Daar is geen twyfel dat die verandering van plek- en straatname in Suid-Afrika deur ANC-beheerde owerhede ideologies- en verkiesingsgedrewe is nie. Geen van die name wat die munisipaliteit wil verander gee aanstoot of skep verwarring nie.
Taljaard meen dat te midde van die huidige finansiële krisis wat Mathjabeng beleef, hierdie voorgestelde naamsverandering absoluut onaanvaarbaar is.
“Die Vryheidsfront Plus se standpunt is dat alle strate in die Matjhabeng-nedersettings (“townships”) eers straatname moet kry. Die polisie, brandweer en ambulansdienste spreek deurlopend hulle kommer uit oor strate wat nie name het nie. Dit bemoeilik hulle werk en stel mense se lewens in gevaar omdat hulle nie betyds bereik kan word nie weens ‘n gebrek aan straatname. Die gee van name aan hierdie strate moet dus prioriteit geniet bo die verandering van bestaande straatname,” het Taljaard gesê.
Die verandering van straatname en die gepaardgaande effek daarvan op skole, instellings, padaanwysings, huise en besighede, gaan miljoene kos. Hierdie koste word gedra deur diegene wat belasting betaal – dit is daardie deel van die inwoners wat juis nie ten gunste van die naamsverandering is of aangevra het nie. Daardie geld kan beslis beter aangewend word om behuising te verskaf, verwaarloosde paaie in die munisipale gebied te herstel en om die watersuiweringsaanleg behoorlik in stand te hou.
Naamsveranderinge moet omsigtig en verantwoordelik gedoen word sodat alle inwoners van die gebied saamgesnoer kan word eerder as wat dit verdeeldheid veroorsaak.
Die VF Plus se standpunt is ook baie duidelik dat dit in die huidige ekonomiese omstandighede onverantwoordelik sal wees om van ondernemings, besighede, maatskappye en die publiek te verwag om miljoene rande te bestee as gevolg van ongevraagde naamsveranderinge.
Die regering en munisipaliteite is nie in die finansiële posisie om miljoene rande te spandeer om bestaande name van plekke en strate te verander nie. Die geld wat aangewend sal moet word vir die beplande naamsveranderinge, kan baie beter aangewend word om dienslewering te verbeter. Naamsveranderinge hou geen voordele in nie en is slegs ideologies gedrewe, maar swak dienslewering raak die totale gemeenskap en bring hulle in opstand.
Susan Taljaard
VF Plus-raadslid: Matjhabeng-munisipaliteit
082 886 9945