fbpx
Vryheidsfront Plus

Valke ondersoek wel Fifa-sokkerskandaal en Amerika onderneem om sy swye oor die aangeleentheid te verbreek

Die Valke ondersoek tog die klag van die VF Plus dat hooggeplaaste Suid-Afrikaners betrokke was by bedrog rondom Fifa se 2010-Wêreldbekersokkertoernooi, al is vroeër berig dat net ‘n voorlopige ondersoek gedoen is, en dat dit laat vaar is, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor sport.

Amerika se pers-attaché in Suid-Afrika, me. Cynthia Harvey, het vanoggend ook onderneem om vrae van die VF Plus hieroor te beantwoord ‘na gesprekvoering met die verantwoordelike persone’ nadat Amerikaanse personeel tot nou toe glad nie daaroor wou praat nie.

Oor die Valke-ondersoek het brig. Hangwani Mulaudzi, die Valke se woordvoerder, gister per e-pos aan die VF Plus erken dat die ‘ondersoek’ wel voortgaan, en het hy gevra dat die speurders ‘ruimte gegun moet word om ‘n deeglike ondersoek te doen’.

Hy sê onder meer die ondersoek na die bewerings – dat Suid-Afrika $10 miljoen se omkoopgeld vir die regte vir die 2010-­Wêreldbekersokkertoernooi betaal het – van so ‘n aard is dat dit nie ‘oornag’ afgehandel kan word nie, en dat terugvoer weldra gegee sal word.

Die VF Plus het begin verlede maand (Junie) die klag ingedien, en die klagstaat van die FBI, soos dit deur Amerika se prokureur-generaal voorgehou is, is as grondslag vir die klag gebruik. Middel verlede maand is in die media berig dat die ondersoek laat vaar is.

Die VF Plus het in die besonder gevra dat ondersoek gedoen moet word na die bewering dat Danny Jordaan, hoof van die Suid-Afrikaanse sokkerfederasie (Safa) en nuut verkose burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, die betaling gemagtig het.

Die rol van die voormalige Safa-baas, Molefi Oliphant, wat glo ‘n brief geskryf het om aan te beveel dat die geld bestuur moes word deur die voormalige Fifa-grootbaas Jack Warner, vorm deel van die klag.

Adv. Alberts sê die VF Plus is verheug dat die ondersoek nie laat vaar is nie.

“Tot die Amerikaners ons vrae beantwoord, sal dit onduidelik wees of dit moontlik vanweë druk van die FBI is dat die Valke besluit het om tog met die ondersoek voort te gaan. Die VF Plus sal die proses deurlopend volg om seker te maak geregtigheid seëvier,” sê Adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.