Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Valke begin ondersoek na onreëlmatige Pelgrimsrus-huurtenders

Twee jaar nadat die VF Plus ‘n klag by die Openbare Beskermer (OB) ingedien het oor onreëlmatighede rondom huurtenders op Pelgrimsrus in Mpumalanga en die beweerde betrokkenheid van amptenare in die provinsie, het die Valke nou bevestig hulle gaan die aangeleentheid ondersoek.

Die betrokke ondersoekbeampte was vandag by die kantore van die VF Plus se Gautengse leier en parlementêre woordvoerder vir handel en nywerheid, adv. Anton Alberts, om ‘n eedsverklaring van hom af te neem.

Adv. Alberts het die saak namens mnr. Werner Weber, die party se leier in Mpumalanga, op 6 Julie 2013 by die OB aangemeld.

Dit was nadat van die 17 eienaars van sakeondernemings op die geskiedkundige myndorp wie se huurtermyne op kort kennisgewing opgeskort is, hulle na die VF Plus gewend het vir hulp.

‘n VF Plus-ondersoek het gevind dat die bestaande huurders se kontrakte na ‘n beskimmelde tenderproses eensydig opgeskort is. Nuwe kontrakte is teen lae pryse aan ander huurders toegeken.

“Baie van die nuwe huurders het dadelik hul huurkontrakte aan die oorspronklike huurders probeer terugsmous, wat duidelik wys dat die tenderproses misbruik is om vinnig geld te maak sonder om daarvoor te werk,” sê adv. Alberts.

Die OB het in haar ondersoek bevind dat die tenderproses verskeie onreëlmatighede bevat en die VF Plus het klagte van bedrog en korrupsie teen die betrokke amptenare, wat in die OB se verslag gemeld word, by die polisie ingedien.

Mpumalanga se departement van openbare werke, paaie en vervoer het verlede jaar die omstrede tenderproses op aanbeveling van die OB geskrap en dit moes van voor af gedoen word.

Volgens adv. Alberts wys dit weer eens hoe hard die VF Plus baklei vir reg en geregtigheid waar mense en hul belange te na gekom word – selfs op plaaslike vlak. Hy bestempel die ondersoek as ‘n groot oorwinning vir sakelui van die dorp.

Mnr. Weber het die ondersoek ook verwelkom en sê die verwikkeling is opnuut ‘n bewys dat die publiek nooit die handdoek moet ingooi teen misdaad nie, en dat alle meganismes wat in plek is om misdaad te bestry, gebruik moet word.

 

Adv. Anton Alberts: 082 391 3117 / 083 419 5403

Mnr. Werner Weber: 084 652 9164

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.