fbpx
Vryheidsfront Plus

Vaagheid van regering oor inperkings-opheffing spel gevaar vir ekonomie

Die regering se standpunt oor die opheffing van die Covid-19-inperkingsregulasies blyk ‘n klassieke ‘Catch 22’-situasie te wees waar die herstel van die ekonomie as voorwaarde vir opheffing gestel word terwyl dit duidelik is dat die ekonomie nooit sal herstel onder druk van die regulasies nie.

Die kommerwekkende boodskap hiervan is dat die regering duidelik nie die erns van die regulasies op die land se reeds bedenklike ekonomie besef nie en klaarblyklik van mening is dat die inperking onbepaald kan voortduur in die vorm van ‘n “nuwe normale” omgewing.

Die VF Plus het in amptelike, geskrewe vrae aan die minister van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede (Cogta), Nkosazana Dlamini-Zuma, onder meer gevra of die inperking opgehef sal word sodra die sogenaamde “kudde-immuniteit” bereik word en of die nasionale ramptoestand daarmee saam opgehef sal word.

Sy is ook gevra aan watter kriteria die toestand rondom die pandemie in Suid-Afrika moet voldoen om die inperking en ramptoestand in totaliteit op te hef. (Volledige vrae en antwoorde hierby aangeheg).

Minister Dlamini-Zuma se antwoord op die eerste vraag lui onder meer dat die inperkings en ramptoestand opgehef sal word sodra die regulasies “nie meer nodig is om die publiek te beskerm teen die vernietigende uitwerking” van die pandemie nie. Dit sluit hulpverlening aan die publiek en die “beskerming” van eiendom in.

Vir die VF Plus is dit duidelik dat die ekonomie onder die heersende regulasies nie kan of sal herstel nie en dat hulp aan die publiek en aan sake-ondernemings daarom nie in die afsienbare toekoms opgehef sal kan word nie.

Hierdie standpunt en mikpunt van die minister en die regering is nie uitvoerbaar nie en dit is duidelik dat die regering geen begrip het vir die vernietigende uitwerking wat die inperkings op sake-ondernemings en die ekonomie het nie. Dit terwyl werkloosheid in die land op die hoogste vlakke ooit is.

Oor die kriteria vir die totale opheffing van die regulasies en die ramptoestand, het die minister verwys na die regering se risiko-aangepaste strategie van 25 April 2020 wat breedweg die internasionale voorskrifte van die Wêreld-gesondheidsorganisasie (WGO) voorhou.

Dit sluit in epidemiologiese neigings, die vermoë van die land se gesondheidstelsel en verskeie ander faktore wat die vlakke van infeksie en die vermoë van die land se gesondheidstelsel om dit te hanteer, insluit.

Suid-Afrika bevind homself op ‘n kantelpunt wat ekonomiese oorlewing aanbetref. Dit is die maaksel van die ANC wat van die begin nie in staat was om die pandemie reg te bestuur nie terwyl magsvergrype aan die orde van die dag is. Suid-Afrika se mense pluk nou die wrang vrugte van die ANC se onvermoë.

Onsekerhede oor nuwe variante van die virus plaas groot onsekerhede oor natuurlike kudde-immuniteit asook kudde-immuniteit deur inenting. So lank as wat hierdie onsekerhede voortduur, verklaar die ANC dat die inperkings sal voortduur.

Dit is ‘n onaanvaarbare situasie en die VF Plus sal opvolgvrae hieroor vra om duidelikheid te kry. Die land kan nie onbepaald gyselaar gehou word deur ‘n onbevoegde regering wat besig is om die ekonomie te vernietig nie.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.