Gister se finale uitfasering van Afrikaans by die universiteite van Pretoria (UP) en Stellenbosch (US) sal onthou word as ‘n donker dag vir Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika en maak ‘n bespotting van die onderhandelde ooreenkoms wat voor die 1994-verkiesing bereik is, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor hoër onderwys.
Hy sê die besture van beide universiteite se argumente van die internasionale mededingendheid van Engels en aanpassing by die demografie is vals en dat politieke gedienstigheid die groot dryfveer agter die besluit was, nieteenstaande ontkennings hieroor.
“Afrikaanse universiteite en studente was nog altyd gerekend op internasionale vlak en die taal was geen beletsel op prestasie nie. Die teendeel is eerder waar. Hierdie vertrapping van Afrikaans is willens en wetens geneem.
“Demografies bevind die US hom in 'n dominante Afrikaanse omgewing en so ook die UP waar Afrikaans die tweede grootste taal in die Tshwane Metro is naas Sepedi.
“Die uitfasering van Afrikaans is 'n menseregte verkragting van alles Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika. Die VF Plus sal stappe by die universiteite en in die parlement hieroor neem,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 0832 391 3117 / 083 419 5403