Die reuse bedrag van R8 257 486.93 wat die Tzaneen-plaaslike munisipaliteit (Haenertsburg, Tzaneen) net in die eerste kwartaal van die nuwe finansiële jaar (Julie tot September 2022) aan oortydbetalings bestee het, is ‘n onaanvaarbare vermorsing van geld.
Die VF Plus het hom tydens ‘n vergadering van die munisipaliteit se gesamentlike begrotings- en infrastruktuurportefeuljekomitee, sterk daarteen uitgespreek
Die eerstekwartaalverslag vir die nakoming van oortydbestuur, wys dat die R8 257 486.93 bykans die helfte is van die totale begroting van R16 422 679 wat die munisipaliteit begroot het vir oortyd vir die huidige finansiële jaar.
Volgens die interne ouditeurspan word oortyd misbruik deur munisipale werknemers weens swak interne beheermaatreëls. Werknemers manipuleer dié gebreke om buitensporige bedrae vir oortyd te eis.
Die departemente wat hulself die meeste aan hierdie wanpraktyk skuldig maak, is finansies, korporatiewe dienste, gemeenskapsdiens en die elektriese ingenieursafdeling.
Dit blyk dat die departementshoofde van die afdelings nie behoorlik beheer uitoefen oor oortydbetalings nie en in die meeste gevalle tydstate nie behoorlik nagaan nie weens laat indienings.
Sommige werknemers het tot 170 ure per maand vir oortyd geëis wat strydig is met die Wet op Basiese Diensvoorwaardes wat voorskryf dat werkers nie meer as 40 ure per maand oortyd mag werk nie.
Die VF Plus het geëis dat die munisipaliteit sy oortydbeleid streng moet toepas en dat departementshoofde wat hul plig versuim om behoorlike beheer uit te oefen, ondersoek moet word.
Daar moet ook opgetree word teen werknemers wat die stelsel uitbuit vir eie gewin.
Die VF Plus sal nie toekyk hoe belastingbetalers se geld vermors word op uitgawes wat voorkom kan word nie. Dié fondse kan eerder aangewend word om Tzaneen se vervalle infrastruktuur te vervang en op te gradeer.
Tzaneen verdien beter as ‘n ANC-regering wat inwoners se swaarverdiende geld wanaanwend.
Navrae: 066 238 1347