Tshwane se metroraad moet dringend innoverende metodes ondersoek om sy eie energie op te wek om lang beurtkrag-periodes in die stad te omseil.
Beurtkrag beïnvloed inwoners se lewenskwaliteit en daarom moet dringend aandag aan alternatiewe energie gegee word.
Die Tshwane-metro kan nie anders as om ondernemings en inwoners aan te moedig om elektrisiteit op kleinmaat op te wek nie. Finansiële aansporing kan in ruil vir elektrisiteit gegee word.
Elektrisiteitsverkope was vroeër ‘n geweldige inkomste vir die stad, maar tans sukkel Tshwane-metro om sy Eskomrekening te betaal.
Dit is gedeeltelik weens inwoners se wanbetaling en minder verkope in tye van beurtkrag.
Die VF Plus, as deel van die koalisieregering, sal alles in die stryd werp om alternatiewe energie ‘n werklikheid in Tshwane te maak. Inwoners verdien ‘n beurtkragvrye stad.