Raadslede van die veelparty-koalisieregering in die Tshwane-metroraad, waarvan die VF Plus deel vorm, het vandag ‘n strafregtelike klag teen verskeie EFF-lede en die party se koukusleier, Obakeng Ramabodu, aanhangig gemaak.
Die klag spruit uit die EFF-lede se optrede op 19 Mei tydens ‘n spesiale raadsvergadering waartydens die Tshwane-metro se 2022/23-begroting ingedien moes word.
EFF-lede het die vergadering ontwrig deur raadseiendom te beskadig, elektroniese apparaat uit te ruk en stoele rond te gooi voordat mnr. Peter Sutton, burgemeesterskomiteelid vir finansies, sy toespraak kon lewer.
Die klag sluit in kwaadwillige saakbeskadiging, aanranding, diefstal, intimidasie en die uiter van doodsdreigemente.
Die klag sluit ook in die verhaling van kostes wat aangegaan is om die onwettige betoging in die strate rondom die Tshwane-metro se hoofkantoor te polisieer.
Dit is aangesien die betoging beskou word as ‘n oortreding van ‘n hofbevel. Daar moes ook bykomende sekuriteit gekry word binne die raadsaal vir die beskerming van raadslede en eiendom.
Die veelparty-koalisie sal ‘n verdere klag by die Menseregtekommissie (MRK) en die kantoor van die openbare beskermer (OB) aanhangig maak.
Die klag wat by die MRK ingedien sal word, omvat vermeende dreigemente van die EFF se nasionale leier, Julius Malema, om die Tshwane-metro “onregeerbaar” te maak.
Hy het glo gedreig om geweld onder sy lede aan te wakker, terwyl die klag wat by die OB sal handel oor die EFF se ondermyning van die demokrasie van Suid-Afrika.
Die VF Plus sal nie langer die oproer en misdadige optrede van die EFF en sy leierskap duld nie.
Daar sal op elke moontlike vlak teen sulke mense opgetree word wat insluit dissiplinêre en siviele aksies om te verseker dat die demokratiese verkose veelparty-koalisie sy mandaat kan uitvoer.