Die begroting van die Tshwane-metro vir die 2019/20- finansiële jaar is nie gemik op korttermyn-gewin nie, maar op volhoubaarheid en infrastruktuur-ontwikkeling en die VF Plus sal seker maak die beplanning word sinvol uitgevoer.
Die begroting is vandag deur die uitvoerende burgermeester, Stevens Mokgalapa, tydens ‘n spesiale sitting van Tshwane se metroraad voorgelê.
Die tariewe kan soos volg opgesom word:
• Eiendomsbelasting verhoog met 6% in alle afdelings
• Vullisverwydering verhoog met 6%.
• Elektriese tariewe verhoog met 12% terwyl Eskom met 13.71% verhoog.
• Watertariewe verhoog met 8%.
Die VF Plus het daarop gewys dat daar steeds meer gedoen kan word om tariewe te verminder in die toekoms, deur beter finansiële bestuur en interne kontroles.
Die ekonomiese klimaat waarin Suid-Afrika homself tans bevind, vergemaklik glad nie die situasie nie. Die koalisie van regerende partye het ook ingestap met ‘n tekort van R1,4 miljard wat deur die ANC nagelaat is wat groot nagevolge gehad het.
Ander belangrike punte van die begroting is as volg:
• Meer as R4 miljard sal beskikbaar gestel word vir infrastruktuur-ontwikkeling.
• Addisionele fondse is beskikbaar gestel om grondgrype te voorkom.
• Fondse sal beskikbaar gestel word vir die anti-kabeldiefstal-eenheid.
• Die Interne oudit-afdeling gaan versterk word om ondersoeke meer effektief af te handel.
Die projekbestuur-departement sal fondse ontvang om ‘n binnenshuise afdeling te vorm wat die gebruik van konsultante sal verminder (soos Glad Africa).
Die VF Plus, wat die tweede grootste vennoot in die koalisie-regering is, waarsku egter dat dit nie net gaan oor die toewysing van fondse aan departemente nie, maar of amptenare die fondse binne die wet bestee.
Die Tshwane-metro het die afgelope dekades gely onder groot wanbestuur sowel as die onregmatige uitgawe van fondse, soos die bekende Glad Africa-tender.
Die VF Plus sal deur die openbare rekeninge-komitee ‘n spesifieke fokus plaas op ongemagtigde uitgawes, sowel as die implementering van kontroles wat onregmatige besteding aan bande sal lê.
Nader besonderhede rondom die begroting sal bekend gemaak word tydens die begrotingsdebat aanstaande week.
Kontaknommer: 072 815 4053