Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Transnet speel dodelike speletjie met pensioenarisse se lewens

 

Skoksyfers wat deur geskrewe parlementêre vrae van die minister van vervoer bekom is, wys dat Transnet-pensioenarisse vinnig besig is om af te sterf terwyl die staatsinstelling gevoelloos besig is om die groepsgeding-saak teen die pensioenarisse met vertragingstaktiek uit te rek.

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder vir vervoer, sê antwoorde van die minister wys dat tussen 273 en 460 pensioenarisse wat lede is van die grootste pensioenfonds, die Transnet Tweede Vastevoordeelfonds (TTVVF) elke maand afsterf.

In totaal het daar, sedert die groepsgeding-hofsaak op 26 April 2013 begin het tot en met Oktober 2014, 6 866 TTVVF-pensioenarisse afgesterf. Daar het dus ‘n gemiddeld van 361 TTVVF-pensioenarisse per maand gesterf.

Tans bestaan die fonds uit 60 138 lede. Die kleiner fonds, die Transport Pensioenfonds (TPF), bestaan tans uit 6 264 lede waarvan ‘n totaal van 298 afgesterf het sedert April 2013.

“Die belangrikste feit is egter die algemene hoë ouderdom van die pensioenarisse. Die minister het aangedui dat die gemiddelde ouderdom van die TTVVF-pensioenarisse 75 jaar en 8 maande is en vir die TPF-pensioenarisse 65 jaar.

“Die TTVVF-pensioenarisse se aktuariële lewensverwagting is net 8 jaar en 3 maande en dié van die TPF-pensioenarisse wisselend onder die drie subfondse tussen 13 en 14 jaar. Daar is dus volgens Transnet self nie meer lank om te wag voordat die pensioenfondse se getalle drasties gaan verminder nie.

Adv. Anton Alberts sê die menselyding wat Transnet met hul optrede veroorsaak, is onmeetbaar en dié skending van menseregte kom opsigself neer op ‘n misdaad.

“Sommige van die pensioenarisse, wat hul lewe lank tot die fondse bygedra het, kry net R1 per maand na hul aftrekkings. Van hulle sterf van ontbering terwyl ander selfmoord pleeg om van hul lyding te ontsnap.

“Daar kan net een afleiding hieruit gemaak word, hoe grusaam dit ook mag wees, en dit is dat hierdie vertragingstaktiek daarop gerig is om te sorg dat die meeste pensioenarisse afsterf voordat hulle dalk sukses in die hof kan behaal.

“Transnet het nou al twee keer teen die groepsgeding-hofbevel probeer appelleer. Daar word nog gewag vir die uitspraak of verlof tot appél aan Transnet verleen is vanaf die Hoogste Hof van Appél,” sê adv. Alberts.

Hy sê indien Transnet ernstig was om die swak pensioene van sy eie vorige werknemers te verbeter, sou hy lank reeds planne gemaak het om die hofsaak te skik. Dit blyk egter dat Transnet moedswillig voortbeur teen die R79 miljard groepsgeding wat hy uiteindelik gaan verloor.

“Dit is ‘n tragiese situasie aangesien Transnet, wat geen verweer in die groepsgeding het nie, weet dat hy finansiële selfmoord pleeg deur met die saak voort te gaan.

“Hierdie is ‘n skreiende onreg wat so gou doenlik reggestel moet word om die lewenskwaliteit van die pensioenarisse te verbeter. ‘n Land wat nie na sy bejaardes omsien nie is ‘n land wat in sonde leef. So ‘n regering sal tot ‘n val kom.

“Die VF Plus sal voortgaan met sy stryd vir die pensioenarisse en glo dat geregtigheid wel sal seëvier,” sê adv. Alberts.

 

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.