Selfbeskikking is 'n internasionaal gerespekteerde verskynsel, wat gebruik word om spanning tussen bevolkingsgroepe te ontlont en die VF Plus bied oor die volgende vier Maandagaande ‘n topvlak-virtuele konferensie aan om die onderwerp te bespreek. Ware kundiges van verskeie vakgebiede sal deelneem.
Die eerste maal wat die begrip gebruik is, was met die ontbinding van die Oostenryk-Hongaarse ryk in 1918/19. Die Eerste Wêreldoorlog is afgevuur deur die frustrasie van onderhorige volke binne hierdie ryk, daarom is selfbeskikking as 'n meganisme tot vrede in werking gestel.
Na die Tweede Wêreldoorlog is dit ook na koloniale ryke uitgebrei, waar Europese oorheersing oor gebiede in Afrika en Asië deur selfbeskikking vervang is. Daarom is selfbeskikking een van die grondslae van die Verenigde Nasies.
Weens die onoordeelkundige vasstelling van koloniale grense in Afrika, is nuwe state geskep, waar sekere bevolkingsgroepe ander oorheers. Onderdrukking, etniese suiwering en selfs volksmoord is van die wrang vrugte van hierdie nuwe state. Die Organisasie vir Afrika Eenheid en die opvolger daarvan, die Afrika Unie, het besluit om koloniale grense ter wille van stabiliteit te handhaaf.
Tot op datum is die koloniale grense deur die erkenning van Eritrië en Suid-Soedan se onafhanklikheid van onderskeidelik Etiopië en Soedan gewysig. Tanzanië het voorkom dat die land in burgeroorlog verval, deur outonomie van bevolkingsgroepe binne die landsgrense te erken – nog 'n uitdrukking van selfbeskikking.
In Suid-Afrika was daar herhaalde pogings om onderliggende spanning deur selfbeskikking te ontlont. Om 'n verskeidenheid redes het dit nog nie geslaag nie en die onderliggende spanning bestaan steeds. Die Suid-Afrikaanse Grondwet van 1996 hou egter wel die deur vir selfbeskikking oop, veral deur Artikel 235.
Dat hierdie grondwetlike artikel meer as akademiese waarde het, is deur die aanvaarding van onteiening sonder vergoeding as regeringsbeleid beklemtoon. Dit is waarskynlik een van die redes waarom die VF Plus se steun in 2019 vermenigvuldig het.
'n Deurslaggewende vraag is hoe minderheidsgroepe in Suid-Afrika die reg tot selfbeskikking kan aanwend om hulself teen 'n staat te beskerm wat tegelyk magsdronk, maar ook korrup en onbekwaam is.
Is selfbeskikking 'n sinoniem vir afskeiding? Moet 'n mens iewers heen trek om selfbeskikking te verkry? Watter vorms van selfbeskikking kan vir 'n minderheidsbevolking verkry word? Dit is praktiese vrae wat antwoorde moet kry, voordat aksie geneem kan word.
Die VF Plus loop hierdie vrae trompop, want selfbeskikking kan nie langer 'n blote teoretiese moontlikheid wees nie – ideale moet omgesit word in planne en planne in praktiese uitvoering. Daarom word 'n topvlak-konferensie hieroor oor die volgende vier Maandagaande virtueel aangebied word. Die program is soos volg:
1. Maandag 19 Oktober:
Wat moet ons van selfbeskikking en verder weet voor ons dit kan bereik? Hier gaan dit oor teoretiese begrippe waarsonder die praktyk nie benader kan word nie. Deelnemers is prof. Koos Malan, mnr. Carel Boshoff en mnr. Flip Buys.
2. Maandag 26 Oktober:
Watter vorme van selfbeskikking is vir 'n verspreide minderheid haalbaar – en hoe word dit bereik? In buurtwagte, skoolbeheerliggame en talle ander verbande beoefen mense reeds selfbeskikking, sonder om die woord te gebruik. Wat is nog moontlik? Hoe ver kan ons daarmee vorder? Deelnemers is prof. Deon Geldenhuys, dr. Pieter Mulder en me. Alida Kok.
3. Maandag 2 November:
Selfbeskikking en ekonomiese haalbaarheid, met klem op die belang van fiskale bevoegdhede. Wat het mens eintlik nodig om selfbeskikking ekonomies te laat werk? Wat is die belangrikste, baie grond, of bevoegdheid om die staatskas te bestuur? Deelnemers is prof. Jannie Rossouw, mnr. Dawie Roodt en dr. André Laäs.
4. Maandag 9 November:
Hoe bereik 'n afgebakende gebied selfbeskikking? Wat sê die staatsreg? En is jy selfstandig as iemand jou ligte kan afsit? Wat leer die praktyk van Orania ons? Deelnemers is dr. Corné Mulder, mnr. Danie Coetzee en mnr. Frans de Klerk.
Navrae: 074 166 5540