Te veel departemente en te veel planne vir ‘n gemene saak skep ‘n warboel wat Suid-Afrika se ekonomie groot skade berokken, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.
Adv. Alberts het vandag met die begrotingsposdebat vir die departement van ekonomiese ontwikkeling gesê dit is moeilik om die land se ekonomie te analiseer aangesien dit opgedeel is in verskeie portefeuljes, naamlik ekonomiese ontwikkeling, handel en nywerheid, finansies en die nuwe departement van kleinsake-ontwikkeling.
Hy sê interdepartementele samewerking is swak, en dit lei tot onnodige duplisering en vertragings weens botsende beleid-standpunte terwyl persoonlike koninkrykies en ego’s die saak verder bemoeilik.
Hy sê ook dit is ironies dat die ekonomiese bestuur van die land aktief gedesentraliseer word tussen departemente, maar dat die ANC/SAKP-ekonomiese beleid een van sentralisering is. Daarby spreek die regering se verskillende ekonomiese planne nie tot mekaar nie en word elkeen om die beurt voorgehou as die meesterplan, afhangende van watter aspek beklemtoon word.
So word die Nasionale Ontwikkelingsplan as die meesterplan beskou, ander kere weer die Nuwe Groeipad, of die Nywerheidsbeleid-Aksieplan. Daar word selfs verwys na die ANC se Vryheidsmanifes wat geen regstatus het nie.
“Hierdie onsamehangendheid vind plaas in ‘n omgewing van ‘n groeiende fiskale tekort, ‘n onstabiele arbeidsomgewing, kragtekorte, ‘n tekort op die land se lopende rekening en ‘n dreigende gemors-kredietstatus.
“Die doel van hierdie begrotingstem is om ekonomiese beleid en beplanning te formuleer tot voordeel van almal in Suid-Afrika. ‘n Mens sou reken dat hierdie departement die ekonomiese leiding sou neem, maar dit is nie die geval nie.
“Gegewe dié konteks, is dit allerbelangrik dat Suid-Afrika se ekonomie op die pad van groei en ontwikkeling geplaas word deur ‘n beproefde en werkbare beleidsrigting waarop al die rolspelers eenvormig fokus,” sê adv. Alberts.
Die VF Plus sou in hierdie verband graag wou sien dat die volgende beleidsbeginsels in plek gestel word:
Adv. Alberts sê daar sal toenemend spasie vir entrepreneurskap geskep moet word om waarde en werk op die ekonomiese landskap te plaas.
“Dit beteken dat politici vernuwend hieroor sal moet besin en as’t ware self politieke entrepreneurs sal moet word wat daarvoor kan sorg dat ‘n omgewing vir groei geskep word,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403