‘n Seker pad na knegskap vir ‘n land se inwoners is wanneer hy ‘n staat het wat alleen-seggenskap en beheer oor alle landsake wil hê, sê adv. Anton Alberts, parlementêre woordvoerder van die VF Plus oor Ekonomie.
Hy sê feitlik alles wat Suid-Afrikaners doen word deur die staat beheer. “Die staat wil besluit hoe mense in diens gestel word en mag word, hoe sakeondernemings bedryf mag word, hoe ons mag opvoed en opgevoed word, en selfs waar ons mag beweeg deur ‘n stelsel van e-tol”.
Volgens adv. Alberts is dit veral erg om te aanskou hoe die wegkalwe van hierdie vryhede deur die landsburgers se eie geld gefinansier word.
“Die regering het strukture in plek wat elke sent moontlik uit die belastingbetaler pers terwyl hy self geen teenprestasie hoef te lewer nie. Voldoen die publiek nie hieraan nie, is hulle skuldig aan ‘n kriminele oortreding.
“Daar geen hefboom wat gebruik kan word om die staat te dwing om sy verpligtinge soos dienslewering na te kom nie. Ons het ‘n stelsel wat ontwerp is om belastingbetalers in die tronk te laat gooi as hulle nie betaal vir dienste wat die staat grondwetlik moet lewer nie, maar die regering en sy amptenare kom skotvry daarvan af as swak of geen diens gelewer word nie.
“Die ergste wat met ‘n regeringsamptenaar kan gebeur indien hy ‘n ANC-meeloper of kader is, is ‘n ligte waarskuwing en ‘n herontplooiing na ‘n pos met selfs beter voordele. Hierdie stelsel van kaderontplooiing onder die dekmantel van regstellende aksie (RA) het die staat se vermoë om dienste te lewer, heeltemal weggekalwe.
“Die individuele belastingbetaler dra tans volgens die tesourie 34,5% van die belastinglas in Suid-Afrika terwyl maatskappye al hoe minder betaal. Dit beteken die ekonomie kwyn en dit is duidelik die regering se beleid het misluk.
“Indien belastingbetalers, veral vanuit minderheidsgroepe, nie beter behandel word nie, sal hulle vanself uit die stelsel begin klim,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403