Die VF Plus gaan die Rand West-plaaslike munisipaliteit versoek om sekuriteitsmaatreëls rondom sleutelpunte soos substasies te verskerp nadat grootskaalse skade Sondagaand by ‘n substasie naby die Aranda-tekstielfabriek in Randfontein aangerig is.
Vandaliste het Sondagaand tydens ‘n fase 2-beurtkragperiode die deure van die substasie oopgebreek en die perseel geplunder. Die skade word op bykans ‘n miljoen rand geraam.
Dit is nie duidelik wanneer omliggende fabrieke, wat deur die substasie bedien word, weer van krag voorsien gaan word nie. Maandagaand was die fabrieke nog sonder krag. Intussen is fabrieke van kragopwekkers afhanklik.
Dit is kommerwekkend dat vandaliste en diewe nou gedurende beurtkrag-fases toeslaan om substasies te stroop ten koste van belastingbetalers.
Die Rand West-plaaslike munisipaliteit, wat Westonaria en Randfontein bedien, is reeds onder geweldige finansiële druk en kan skaars die mas opkom om noodsaaklike infrastruktuur te onderhou en te herstel. Hierdie tipe vandalisme plaas die munisipaliteit in ‘n nog groter finansiële krisis.
Randfontein is gereeld in die nuus omdat riool vrylik in die strate afvloei weens die munisipaliteit se onvermoë om herstelwerk te doen.
Kontaknommer:082 565 2336