fbpx
Vryheidsfront Plus

Statistiek wys dat verwagtinge rondom e-tol nie realiseer nie

Verwagtinge en projeksies rondom inkomste wat deur e-tol gegenereer moet word, realiseer nie, en volgens statistiek wat die VF Plus na ‘n parlementêre vraag bekom het, blyk die teendeel eerder waar te wees, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Volgens adv. Alberts toon ‘n tabel oor ware inkomste en projeksies aan dat inkomste in die eerste sewe maande nadat e-tol in Desember 2013 inwerking gestel is, maand op maand geleidelik toegeneem het waarna dit vanaf Junie 2014 skerp begin afneem het.

In teenstelling met die werklike inkomste, toon die projeksie ‘n buitensporige verwagting wat in Maart vanjaar reeds meer as twee derdes hoër as die werklike inkomste was. Geen syfers is by die tabel gevoeg nie, en die VF Plus het gevra dat dit ook verskaf moet word.

Uit verdere vrae blyk dit dat die stelsel se totale bedryfskoste meer as R66 miljoen per maand beloop en dat die maandelikse registrasie van etol-gebruikers ook besig is om vinnig af te neem. In April vanjaar is slegs 20 104 skyfies geregistreer teen 71 751 in April verlede jaar, en 356 766 in Desember 2013.

Op die vraag oor hoeveel skyfies maandeliks gederegistreer word, is ontwykend geantwoord sonder om enige syfers te verskaf. Ook hier het die VF Plus om die ware syfers gevra.

Adv. Alberts sê die statistiek wat wel verskaf is, skets ‘n duidelik prentjie van ‘n stelsel wat besig is om in duie te stort en oor feitlik geen legitimiteit meer beskik nie.

“Dit is duidelik dat die verwagtings wat met e-tol geskep is, buitensporig hoog was. Maar hoe groot die stelsel se finansiële krisis werklik is, sal eers gesien kan word wanneer die vrae volledig beantwoord word,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.