Die staking wat vandag plaasgevind het by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg oor ‘n loongeskil met die Gautengse departement van gesondheid, is niks anders as ‘n aanduiding dat die provinsie se gesondheidsdienste finaal inmekaar gestort het nie.
Alhoewel die departement in hierdie jaar se provinsiale begroting die grootste gedeelte ontvang het, is dit steeds nie genoeg om die departement van algehele ondergang te red nie.
Die jare lange korrupsie en wanbestuur wat in die departement heers en gelei het tot die Esidimeni-slagting en die ineenstorting van dieselfde hospitaal se dak, die haglike omstandighede waaronder mediese personeel moet werk en die gevaar waarin pasiënte daagliks verkeer, is maar net ‘n bewys dat geen salf meer aan hierdie wond te smeer is nie.
Die VF Plus spreek sy kommer uit dat die LUR van gesondheid, Gwen Ramokgopa, asook die LUR van gemeenskapsveiligheid, Sizakele Nkosi-Malobane, nie daarin kan slaag om die lewens van pasiënte in die provinsie se hospitale te beveilig nie.
Dit is ‘n skande dat pasiënte vir hul lewens moet vrees en in die hospitaal se kelder moes wegkruip om hul eie lewens te beskerm. Die VF Plus sidder om te dink wat gebeur met pasiënte wat nie kan beweeg of nie eers weet wat om hulle aangaan nie.
Dit is hoog tyd dat daar met ‘n ferm hand teen stakers opgetree word en dat die provinsiale departement van gesondheid dringend onder administrasie geplaas word om te probeer red wat nog te redde is.
Kontakbesonderhede: 060 556 4347