Die burgemeester van Tshwane metro, Kgosientso Ramokgopa, het gister sy stadsrede in Vryheidspark, Pretoria gelewer. Dit is die eerste raadsvergadering sedert die terrein se amptelike opening – voorwaar ‘n unieke geleentheid.
Burgemeester Ramokgopa het weer eens sy gehoor beïndruk met die prag en praal rondom die geleentheid – ‘n seremonie wat 2 uur en 21 minute geduur het.
Tydens sy toespraak, wat hoofsaaklik op die positiewe gefokus het, is genoem dat die Wonderboom lughawe opgegradeer word om Airlink-lugdiens te huisves. Die lugdiens beplan om vanaf Augustus drie vlugte per week na Kaapstad in te stel.
Hy het sy teleurstelling uitgespreek oor die xenofobiese aanvalle op buitelanders. Hy was egter tevrede dat daar min sulke gevalle in Tshwane was. Sy kommer was oor die vandalisme van Afrikaner-standbeelde in die stad.
Dit is jammer dat die burgemeester min gesê het oor die slimmeter-kontrak wat summier deur die metro gekanselleer is. Die VF Plus gaan die Openbare Beskermer vra om die saak te ondersoek.
PIET UYS
VF Plus stadsraadslid Tshwane
082 774 6760