Die VF Plus is bewus van die voordele wat die gebruik van geslote stroombaan-kameras vir die veiligheid van private huiseienaars en ondernemings inhou, veral in ‘n land met toenemende misdaad.
Daar moet egter gewaak word om nie inbreuk te maak op ander se privaatheid nie.
Na verskeie klagtes van huiseienaars wat beweer hul bure se geslote stroombaan-kameras maak inbreuk op hul privaatheid, het die Stad Kaapstad hieroor besin.
Die stad se veiligheids- en sekuriteitskomitee het vandag konsepverordeninge bespreek om die gebruik van die tegnologie te reguleer.
Daar is tans geen beleid wat beskerming bied vir klaers in die verband nie en gevolglik sal die konsepverordeninge poog om die leemte aan te spreek.
Alhoewel die VF Plus alle wetlike maniere ondersteun om misdaad te bekamp, wil die party terselfdertyd verseker dat daar nie onregmatig inbreuk gemaak word op mense se privaatheid nie.
Van die konsepverordeninge behels dat die stad kameras wat inbreuk maak om mense se privaatheid, kan verwyder.
Daar moet ook toestemming van die stad verkry word voordat enige kamera aan die stad se infrastruktuur gekoppel word.
Die stad sal dan ook toegang hê tot enige inligting wat die spesifieke kameras opneem.
Die VF Plus doen ‘n beroep op alle inwoners van Kaapstad om aktief deel te neem aan die openbare konsultasieproses hieroor.
Daar moet seker gemaak word dat die nuwe verordening effektief aangewend word om misdaad te bekamp en mense se privaatheid respekteer.