fbpx
Vryheidsfront Plus

Staatsrede 2020 ‘n tragiese refleksie van gebrek aan verantwoordbaarheid en leierskap in die regering

President Cyril Ramaphosa se staatsrede was vir die meeste Suid-Afrikaners ‘n groot teleurstelling en het ‘n tragiese refleksie gebied op die gebrek aan respek, verantwoordbaarheid, waardigheid en leierskap wat vaardig is in veral die regerende ANC-party en die EFF.

Oor een saak is die president reg en dit is dat daar genoeg potensiaal in die land is om sukses te behaal, soos die nasionale rugbyspan gewys het. Dit is daarom jammer dat die ANC-regering self hierdie potensiaal op groei en vooruitgang ondermyn deur sy onvermoë om te regeer.

Die realiteit is dat die regering dit vir die private sektor al hoe moeiliker maak om te groei en werk te skep te midde van swaar belasting, die minimumloon, kragonderbrekings en die beleid van Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) wat net ‘n klein swart elite bevoordeel ten koste van die massas.

Boere, soos in die omgewing van Graaff Reinet in die Oos-Kaap, was hoopvol dat die president droogtehulp in sy staatsrede sou aankondig. In plekke soos Vanwyksvlei in die Kareeberg-distrik gaan dit op die oomblik nie net oor vee wat vrek nie. Daar is mense swart, wit en bruin, wat nie in staat is om kos op die tafel te sit nie.

Talle boere se vee het reeds weens die droogte gevrek. Boere speel bankrot, werkgeleenthede gaan verlore en broodnodige voedsel kan nie geproduseer word nie. Die president erken hierdie krisis, tog verleen hy nie hulp aan hierdie kommersiële boere nie, maar fokus slegs op opkomende boere.

Die VF Plus wil opnuut ‘n beroep op die president en die regering doen om plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad te laat verklaar en om die beleid van onteiening sonder vergoeding te laat vaar.

Die ontwapening van die burgery is onaanvaarbaar aangesien die polisie nie in staat is om die burgers van die land teen misdadigers te beskerm nie. Die VF Plus versoek daarom weer die instelling van spesiale magte wat in besonder fokus op plaasmoorde en algemene moord-en-roof.

Onteiening sonder vergoeding sal slegs die ekonomie benadeel en kan ander verreikende gevolge inhou. Mense sal nie sonder meer afstand doen van hul swaarverdiende eiendom nie. Die VF Plus wil die publiek nogtans maan om ten spyte van al die aanslae nie negatief te raak nie.

Kontaknommer: 079 885 1135

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.