fbpx
Vryheidsfront Plus

Staatsdienskommissie gaan gevra word om Prasa se hoofingenieur te ondersoek

Die VF Plus gaan die Staatsdienskommissie (SDK) versoek om ondersoek te doen na die geldigheid van die kwalifikasies van Prasa se hoofingenieur, dr. Daniel Mtimkulu, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor arbeid.

Die VF Plus se interne ondersoekspan sal self ook navraag doen oor die ingenieursgraad van Mtimkulu en sal die inligting wat ingewin word, voorlê aan die SDK. Die SDK het juis in 2005 amptelike riglyne uitgereik aan die staatsdiens en openbare ondernemings om kandidate vir posisies se kwalifikasies behoorlik te ondersoek.

Indien daar enige onreëlmatighede is, sal die VF Plus ook bedrogklagte by die polisie indien teen al die betrokke persone, insluitende Prasa se hoof, mnr. Lucky Montana. Mnr. Montana is ingevolge die Openbare Finansiële Bestuurswet die hoof rekenkundige beampte wat moet sorg dat die hulpbronne van Prasa effektief en verantwoordelik aangewend word. Indien dr. Daniel Mtimkulu blyk onreëlmatig aangestel te wees weens sy moontlike gebrek aan regte kwalifikasies vir die posisie wat hy beklee, en daar is ‘n verband tussen dr. Daniel Mtimkulu en die aankoop van treine met verkeerde spesifikasies, dan sou beide Mtimkulu en Montana oop wees vir moontlike vervolging.

Adv. Alberts sê beweringe wat gemaak word in ‘n berig wat vandag in Beeld verskyn, is baie ernstig, en indien Mtimkulu nie onmiddellik bewys kan lewer van sy kwalifikasies nie, moet hy summier geskors word hangende ‘n ondersoek.

Uit die berig blyk dit dat Mtimkulu is nie amptelik as ’n ingenieur geregistreer nie, die Ingenieursraad van Suid-Afrika (Ecsa) het sy aansoek om registrasie in 2006 afgekeur en die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) waar hy glo studeer het, het geen rekord van hom nie.

Volgens Mtimkulu het hy sy doktorsgraad aan ‘n universiteit in Duitsland behaal. Ook dit sal ondersoek word, sê adv. Alberts.

“Intussen vra die VF Plus dat enige persoon met verdere inligting dadelik met die party in verbinding moet tree sodat dit ondersoek kan word.

“Onbekwame kader-aanstellings is besig om die staatsdiens en sy vertakkinge lam te lê en die tragiese gevolge sien ons nou manifesteer in plekke soos Eskom en ook Prasa, waar R600 miljoen moontlik vermors is op die aankoop van foutiewe lokomotiewe.

“Die VF Plus sal in hierdie geval seker maak dat ‘n goue handdruk nie gebruik gaan word om enige ongerymdheid te laat verdwyn soos in soveel ander gevalle nie. Indien ongerymdhede plaasgevind het, moet die reg sy beloop neem.

“Die vervalsing van kwalifikasies is ‘n misdaad en is vinnig besig om hand oor hand toe te neem in Suid-Afrika. Dit moet stopgesit word,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.